GEMSBOK-KATHU: AfriForum se Kathu-tak het onlangs twee noodwaterpunte in Olifantshoek opgerig om dié gemeenskap te help wanneer wateronderbrekings tref.
Albei noodwaterpunte is in Lukinstraat geleë.
Daar is ernstige watertoevoerprobleme op Olifantshoek, wat veroorsaak dat inwoners gereeld langdurige wateronderbrekings moet verduur.
Ingevolge artikel 27(1)(b) van die Suid-Afrikaanse Grondwet is toegang tot veilige drinkwater ’n basiese mensereg.
Hierdie reg word verder deur die Waterdienste Wet 108 van 1997 ondersteun.
“Om mense te ontneem van só ’n basiese mensereg, kan doodeenvoudig nie geduld word nie. AfriForum wil daarom met hierdie noodwaterpunte verseker dat elke lid van die gemeenskap toegang tot water het wanneer die munisipaliteit hul faal,” sê Lize-Mari Smit, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Karoo.
Die burgerregteorganisasie moedig inwoners aan om eers die water te kook wat uit die noodwaterpunt getap word voordat dit vir daaglikse gebruik aangewend word.
AfriForum se Kathu-tak sal voortgaan om broodnodige ondersteuning aan die gemeenskap te bied om die druk te help verlig. Besoek www.wordlid.co.za om by die tak betrokke te raak.