UPINGTON: Die Noord-Kaap Vigs Forum (NKVF) is byna 30 jaar gelede onder leiding van wyle Babst Karsten gestig toe die vigspandemie op sy ergste was. Sedertdien is die organisasie deur verskillende bestuur en uitvoerende hoofde gelei.
Die bekendste onder hulle is Jeff van der Merwe, 'n gewese direkteur van onderwys, wat tot 'n groot mate die fondament van die organisasie gelê het.
Ds. Johannes Moroeroe was ook vir etlike jare die voorsitter. Mnr. Rudolph Saal, 'n voormalige skoolhoof en tans 'n DA-raadslid van Upington, was ook vir 'n hele aantal jare die voorsitter en tesourier onder ds. Moroeroe.
In 2022 het Saal aangebied om as voorsitter te dien toe daar nie een gevind kon word nie.
In Januarie vanjaar was daar slegs vier raadslede maar later het pastoor Herman Cook (voorsitter), wie uitgebreide kennis gehad het oor nie-regeringsorganisasie, aangesluit. Apostel Gert Tities (onder-voorsitter), M. Cook (sekretaris bemarking), suster Cynthia Niewenhuizen (vise-sekretaris, palliatiewe sorg), M. Beukes (addisionele lid, onderwys), M. van Schalkwyk (addisionele lid, hospice) en Geraldine Jacobs ( addisionele lid, NGO) het bygekom. Mnr. Saal was aangestel as kantoorhoof sonder vergoeding.
Die nuwe bestuur het 'n nuwe visie ontwikkel vir die Noord-Kaap Vigs Forum - Upington en omgewing - ten opsigte van befondsing, dienslewering en spesifieke programme vir hul werksaamhede.
Daar sou veral gefokus word op volhoubaarheid, gemeenskapsbetrokkenheid en groter befondsing.
Pastoor Cook het in 'n verslag genoem dat hy "verskriklik bekommerd" is oor die toekomstige befondsing van die Forum op Upington omdat pres. Donald Trump van Amerika in Februarie 'n uitvoerende bevel onderteken het waarin hy alle finansiële hulp aan Suid-Afrika staak.
Hy het gesê dat die organisasie hard daaraan werk om dié uitdagings aan te pak en ook om persone teen wie daar dikwels gediskrimineer word te help om so ver moontlik op 'n normale en waardige wyse te leef. Pastoor Cook het voorts gesê dat die gemeenskap die "sterkpunt van die organisasie is en dat die mense saam moet staan om noodsaaklike dienste aan die mees kwesbares te lewer".
Suster Anna van Kratenburg van die palliatiewe program het genoem dat "Upington dringend 'n hospice benodig om terminal siek persone die geleentheid te gee om in waardigheid hul laaste dae deur te bring".
Mnr. Saal het die "Risiha-projek" in die Rosedale-en Pabellelo-woonbuurte geprys vir hul besondere diens wat tien jong gemeenskap-werkers aan meer as 200 begunstigde skoolkinders gee.
Die diens sal uitgebrei word tot 'n "one-stop-centre" waar 'n meer omvattender diens aan begunstigde leerlinge verskaf sal word. Volgens statistieke by die departement van gesondheid het die Noord-Kaapprovinsie die tweede laagste voorkoms van HIV/Vigs naas die Wes-Kaap. In 2022 het die syfer op 8.9% gestaan.
As blyke van hul onbaatsugtige diens aan die organisasie het oud-en huidige raadslede sertifikate ontvang tydens die vergadering in die Orange River Hotel in die Extension-woonbuurt. Belinda de Wee, die "Role Model National SA Pageant" is as beskermvrou vir die Noord-Kaapstreek benoem. "Sy sal 'n belangrike deel vorm van die organisasie se bemarkingsaksie wat vanjaar deur die raad beplan word", het mnr. Saal gesê.
*Berig saamgestel deur R.B.F. Saal en Nick Pretorius.