GEMSBOK-PRIESKA: Piet Roux, ’n bekende boer in die Prieska omgewing is vanjaar aangewys as die Veeplaas Klimaatslim Ambassadeur in 2023 en hy gaan ook in samewerking met Veeplaas ’n boeredag op sy plaas aanbied. Alle boere word uitgenooi om die geleentheid by te woon.
Die toegang is gratis en dit sluit ook ’n ete in. Die boeredag word op 26 Oktober, op die plaas Biega, tussen Prieska en Britstown aangebied en bekende sprekers gaan tydens die geleentheid optree. Dr. Louis du Pisanie, ’n bekende weidingkundige is een van die sprekers en gaan met die boere gesels oor die boer se verantwoordelikheid om klimaatslim te boer ten einde sy boerdery volhoubaar te hou.
Piet Roux gaan ook vir die boere vertel wat hy doen om klimaatslim te boer. Gedurende die oggend gaan dr. Du Pisani en Piet Roux ook saam met ander bekende klimaatslimboere, James Faber van Barkley Wes en Willie Storm van Olifantshoek, ’n paneel bespreking hou en strategieë bespreek hoe om ’n plaas by veran-derende klimaatsomstandighede te laat aanpas. Boere sal baie hieruit kan leer. Ander sprekers van die dag is Daneel Rossouw van Nedbank wat boere gaan inlig oor finansie-ringsprodukte vir bosbeheer. En BG Badenhorst van Zoetis gaan gesels oor suurpens beheer by skape tydens droogte.
Middagete sal omstreeks 13:30 bedien word. Almal is welkom om die geleentheid by te woon. Bespreek net betyds jou plek. Skakel gerus met Deidre Louw by 066 231 2430 of met Koos du Pisanie by 0853 457 8145.