Ek het iewers in 2010 die eerste keer oom Dirk ontmoet. Ek, wat van kleins af daarvan gehou het om met interessante mense te gesels, het dadelik van hou gehou.
Eksentriek, ‘n goeie skoot hardkoppigheid, maar ook lief vir mens en dier.
Dirk Jacobus Rupping is op 25 Janaurie 1942 gebore as die jongste kind van Booi en Marie Rupping, van die plaas Kortkamp in die Kalahari. Oom Dirk het my vertel dat hy van kleins af daarvan gehou het om te teken. Sy ma het hom ook baie aangemoedig, ook leergierigheid by hom aangemoedig.
Dirk Jacobus Rupping was ‘n slim man, dit het jy gou agtergekom as jy met hom gesels het. Hy was die eerste leerling van Hoërskool Upington wat ses onderskeidings in matriek behaal het.
Een van sy niggies sê hy was baie lief vir sy familie en vriende, hy was ‘n omgeemens. Hy het baie stories en grappe vertel, net soos sy pa, oom Booi.
Na skool het hy onderwys gaan studeer, eers in Outshoorn en later ook in Stellenbosch. Hy word dan ook ‘n onderwyser op Upington by Op die Voorpos, waar hy kuns, Afrikaans, Duits, wiskunde e.a gegee het.
Nou, na sy dood, het soveel van sy oud-leerlinge boodskap op sosiale media gelos. “Meneer was ‘n “legend”. Hy het my liefde vir Duits by my ingeprent. Hy het my geleer skilder,” en nog baie ander. Blybaar was hy ook ‘n kwaai onnie. Sommer die kinders met die eerste en beste ding gegooi wat voorkom - die bordveër, Bybel of ‘n boek. Maar hy was ook baie lief vir kinders. In een van sy skrywes aan die Gemsbok het hy gesê, “ ‘n mens moet altyd luister wat ‘n kind vir jou wil sê”.
Later jare het hy Kaap toe verhuis waar hy in Parow gewoon het. Daar was hy ‘n dosent by verskeie skole en kolleges. Hy het ook daarvan gehou om te reis, onder andere Noorweë. Na sy aftrede het hy hom op Klippunt gevestig waar hy met hoenders en bokke geboer het, voor hy Upington toe getrek het.
Van die outehuis wou oom Dirk niks weet nie. Toe sy broer, Pieta, daar gewoon het, het hy baie daar gaan kuier, maar hy wou onafhanklik wees en doen wat hy wou. Hy was enig in sy soort. Baie mense het hom op sy baadjie takseer en dan kom hy by my aan en vertel knipoog hoe iemand hom iets aangebied het of vir sy kos wou betaal.
Hy het omtrent elke week by die Gemsbok ‘n draai kom maak, lekker gesels en ‘n bietjie kom rus, voordat hy weer verder gestap het.
Oom Dirk het ‘n baie goeie sin vir humor gehad, skerp - soos ‘n “Minora blade”. ‘n Mens het party keer eers te laat agtergekom dat hy met jou die draak steek. En nie te veel voorsê nie, nee. Hy het baie keer vir my gesê, “Kindjie, jy praat te veel, bly eers stil en luister.”
En nou is sy “stem” vir altyd stil en die kwas vir altyd neergelê.
“Lekker skilder en skryf oom Dirk, hardloop weer oor die Kalahari se rooi duine” - Elsa