GEMSBOK-UPINGTON: Kort nadat ene Johan Ruiters, met ‘n splinternuut gestigde Facebookprofiel, fotos van wat lyk soos ‘n tamaaie groot slang wat in die Oranjerivier swem, aan die Gemsbok gestuur en ook op ander sosiale media platvorms gelaai het, is die internet aan die giggel en gons oor die egtheid en oorsprong van die fotos.
Ruiters het twee soortgelyke fotos aan ons ge-stuur met die volgende boodskap by:
“Goeie More
Ek wil graag nie ‘n bohaai veroorsak nie, maar daar is ‘n paar fotos wat ‘n vriend vir my gestuur het - wat haar man ‘n tyd terug langs die Oranjerivier (Upington) geneem het.
Ek bekyk die photos en wil graag weet - is dit normaal vir ‘n slang om so groot te wees?”
Ons joernalis het met Ruiters probeer kommunikeer, maar die het intussen van die internet verdwyn.
Gemsbok het die foto van die reusagtige slang in die rivier - wat nogal lyk asof dit hier by Upington se treinbrug geneem kon wees, ontleed en ook met ‘n gerespekteerde herpetoloog oor die aangeleentheid gesels.
By ondersoek is bevind dat dit beslis ‘n kunsmatige intellegensie gedokterde foto is, maar die vraag oor hoe groot die grootste slang in die Noord-Kaap kan word, het tog by ons joernalis vasgesteek.
Die legende van die waterslang, wat al teen die oewer van die Oranjerivier af vertel word, moes tog êrens ‘n oorsprong gekry het?
“Dit is ‘n vals beeld. Ons luisslang oorskry selde 5 m. Selfs al sou dit ‘n ekstotiese troeteldier wees wat ontsnap het, bereik die Anaconda slegs sowat 6,5 m en die grootste slang - die Reticulated Python of Asia 7,5 m.” het gerespekteerde en bekende herpetoloog, Johan Marais, aan die Gemsbok gesê.
Hierdie keer mag kunsmatige intellegensie en slim tegnologie ons internetgebruikers ‘n rat voor die oë gedraai het, maar lank voor jy met ‘n rekenaar kon kul - het ons mense reeds van die reusagtige slang wat broei onder Augrabies - maar ook tot onderkant die waterval tot by die mond, of bokant die waterval tot waar Grootrivier en Vaalrivier deel, of sommer ook in die berge ver weg van die rivier af vind.
Uit die beskrywing van die vernaamste eienskappe van die “Grootslang” van die Oranjerivier, is ooreenkomste sigbaar met soortgelyke waterslange en verwante skepsels onder die inheemse-groepe van Suider-Afrika.
Met die verloop van tyd en omstandighede en wat ook ‘n noue verband het met die ontstaan van Afrikaans, kan die afleiding gemaak word dat die waterslang, wat in die Afrikaanse volksgeloof gevestig geraak het, dieselfde slang is wat in die mites en verhale van die inheemse groepe voorgekom het en tot vandag toe nog verskyn.
Die waterslang is geen gewone slang wat in die water woon nie, maar ‘n mitologiese slang met besondere magte.
Soos die mites en legendes wissel, verskil sy magte ook.
Dis nou as ‘n mens dit ‘n legende kan noem, want tot vandag toe is daar mense wat glo dat so ‘n slang wel bestaan.
Dit word geglo dat die slang sowat 13 meter lank is en dat hy gewoonlik ‘n ster op sy kop dra.
Bes moontlik het die verhaal sy ontstaan te danke aan luislange in die omgewing.
Van so vroeg as 1838 verwys staaltjies na ‘n twaalf duim (sê 30 cm) breë slangsleepsel langs die Oranje in die Richtersveld.
In 1889 sou die slang deur ‘n sekere Kinnear by Upington gesien gewees het. Kinnear het boerbokke geruil wat met ‘n skuit oor geroei is toe hulle sowat drie meter van die slang se lyf bo die water gesien het. Die slang se kop het gelyk soos die van ‘n koei, sê agt duim (20 cm) breed, en sy lyf was omtrent so dik soos die bobeen van ‘n groot man.
Selfs Sakkie Spangenberg sê hy loop mar lig vir die legende - al kon hy nie mooi sien nie - het hy ook by tye al iets in die water van die Oranjerivier - veel groter as wat ‘n luislang moet wees - onder die donker water gewaar....