GEMSBOK-RIETFONTEIN: Die Rietfonteingemeenskap het onlangs gasheer gespeel vir die heel eerste Kalahari and Upington Farmers Association (KUFA) boeredag.
Meer as 400 mense vanuit die Kalahari-Upington streek en sover as Namakwaland het op díe dag byeen getrek om behoorlik fees te vier.
Een van die doelwitte van KUFA was om ‘n boeredag vir sy lede en die breë boeregemeenskap aan te bied.
Hier kon die boere meer leer van alles in die landbou-bedryf en terselfdertyd kers opsteek by diegene wie reeds in die bedryf is.
Sprekers uit die stoetgeledere soos Chris Goosen (Meatmaster & Draughtmaster Telers-genootskap), Hannes de Witt (Kalahari Kids Corporation & Gordonia Boerbok Klub), Larry Snyders (Dorper Telersgenootskap) en Cecilia Riekert (Heu-ningboerdery) het die gehoor toegespreek.
Bennie Nortjé het jeugskou demonstrasies en opleiding aan die jeug van Mier gebied.
Hieruit is agt junior en agt senior leerders gekies, wie aan die Vleisskaap en Boerbok Jeugskou by Upington Landbou Expo sal deelneem.
Jaco van Rensburg van Cavaliers het die boere meer van die logistieke ketting (van die plaas tot die winkelrak) en die vasstelling van markpryse, vertel.
Hierdie gesprek was besonder insiggewend vir die boere.
Piet Karsten Senior was die hoofspreker vir die dag en het boere op sy reguit, dog kragtige manier aangemoedig om in hulself te glo en hul hulpbronne optimaal te benut.
Bertus Ryk van Landbank (hoofborg vir die dag) en dr Andres Majaja van Departement Landbou, het ook hul steun aan die boere kom herbevestig en hoop vir groter samewerking in die toekoms uitgespreek.
In egte Landbouskou-styl is topdiere hier ten toon gestel en kon geharde veeboere hul kudde met stoetdiere vergelyk.
Nuwe veeboere is hier gebore, want die kindertjies kon nie genoeg help om die diere kos en water te gee nie.
‘n Ponie het ure se vermaak aan die kinders besorg. Gaste kon tussen die vele stalletjies kuier en hulself knuppeldik aan plaaslike lekkernye soos roosterbrood en kaiings, nxabas, braaivleis en koekies eet.
Vir die motorliefhebbers was daar ‘n pragtige uitstalling van voertuie deur die Morgans Groep (Isuzu).
Die hoogtepunt van die dag was die Dorper Kuddeskou wat toeskouers nog tot laat aand laat saamdrom het.
Die Dorper Groot Kampioenram-trofee was opgeskep deur David Bok en die Dorper Reserwe Groot Kampioenram deur Nolan Oryan.
Nolan Oryan was ook die trofeewenner van beide Dorper Groot Kampioen Ooi en Dorper Reserwe Groot Kampioen Ooi.
Almal in die Kalahari is dit eens dat hierdie boeredag nog lank onthou sal word en dat dit die begin is van die oplewing van ‘n vervloë era toe die Kalahari ordentlik kon skou.
‘n Era toe nxabas dik geloop het en plantasies vaal vlaktes groen gekleur het. Toe oeste groot was en elke Kalahari-kind ryk in die hart was.
Hierdie is die begin van ‘n nuwe, voorspoedige era vir diegene wie saam met ons daaraan gaan bou.