UPINGTON: "My pa was 'n stapper. Hy't gehou van die buitelug en was 'n avontuurlustige mens. Hy het baie geoefen, homself fiks en gesond gehou, sy vrugte en groente geëet en het die lewe voluit geleef. Ons familie was vir hom baie belangrik en hy het gesorg dat daardie band behoue bly".
Só het Shaun (41) die enigste seun van James Edward Allies met trots aan ons meegedeel. ' n Talentvolle, rustige man, veral bekend om sy talle staproetes en avonture. Jimmy, soos familie, vriende en die gemeenskap hom geken het, is op 1 Julie kort ná 'n fratsongeluk, naby sy huis, in die mediese sorgsentrum, aan 'n ernstige kopbesering oorlede.
Hy was 69 en sou op 24 Julie sy 70ste verjaardag gevier het. Sy ouer broer, Monty, is op 8 Junie aan natuurlike oorsake dood. Jimmy was 'n knap Biologie-onnie van ouds, lief vir toneelspel en kitaarspeler van die eerste water. Sy stap avonture het hy destyds tussendeur sy onderwyswerk gevleg.
Hy was baie lief vir musiek - van pop tot Beethoven. En dan was koorsang en opera van sy gunstelinge. Kompleet 'n gebore kunstenaar was hy!
Hy het jare lank skoolgehou by die destydse Senior Sekondêre Skool Saul Damon waar hy sy vaderlike besorgdheid en omgee vir veral agtergeblewe leerlinge met erns op sy hart gedra het. Maria van Wyk van die departement van onderwys in Upington het hulde gebring aan die oud-onderwyser."Hy was 'n man vir die arm en bedruktes in ons gemeenskap. Mnr. Allies het omgegee vir arm mense en het as ware hul moeilike omstandighede op sy skouers geneem", het Van Wyk gesê tydens sy troosdiens verlede Dinsdagaand in die Congregational kerk.
Ook Rudi van Zyl van die South African Democratic Teacher's Union (Sadtu) het hulde aan die ontslapene gebring. "Oom Jimmy se dood was 'n groot skok vir ons. Hy was baie gemaklik met ons en het rustigheid en kalmte geskep in ons vergaderings wanneer dinge skeef geloop het," het Van Zyl gesê. "Tussen ons was oom Jimmy 'n sagte mens wat kalmte oor ons gebring het. Hy het nooit posisies nagejaag nie".
Namens die Hoërskool Saul Damon het Charlotte Matthys 'n boodskap van hoop en vooruitgang gebring waarvan Jimmy een van die "groot mense" was wat die fondament van 'n goeie en gevestigde hoërskool gelê het. "Jimmy was "meester" gewees," sê mev. Matthys. Hy was daar as jong onderwyser toe Saul Damon begin het", het sy gesê.
Musiek, kitaarspeel, sang en vrolikheid was altyd aan die orde van die dag wanneer ons as personeel op uitstappies bymekaar gekom het.
"Meester Jimmy" was altyd aan die voorpunt met sy kitaar". Aan die einde van die verrigtinge het eerw. Hurbert Matthys na aanleiding van Psalm 103:13-18 verwys na "Hy weet tog waarvan ons gemaak is; Hy weet dat ons net stof is". Eerw. Matthys het in sy boodskap aan die familie gesê Jimmy het 'n blywende impak gehad op baie mense se lewe. "Hy het bekendheid verwerf met sy stap-ekskursies in sekere plekke van ons land", het eerw. Matthys gesê.
In sy lewe as stapper het Jimmy die Visrivier canyon in Namibië met sy groot uitdagings op verskeie geleenthede aangedurf. Hy het ook die Klipspringerpad naby die Augrabies-waterval, die Blyderivier canyon, en die Zebra-staproete in die Oos-Kaap op verskeie tye gedoen.
Jimmy se ander groot liefde was gholf. Hy was ‘n lid van die destydse Eureka gholfklub. Wanneer hy ‘n brouhou gespeel het, het hy altyd gesê: “Ag, nee man! Nie só nie of hy’t gesê: “O, golla!”
* Jimmy word oorleef deur sy vrou Joan, Shaun, Natalie, ‘n kleindogter Nevaeh, drie broers en vyf susters. Hy is verlede Saterdagoggend (12 Julie) vanuit die Congkerk ter ruste gelê.
* Die Gemsbok wens sy familie sterkte toe. Ons sal die berigte en foto’s van die staptogte wat hy graag in die Gemsbok gedeel het, mis
.- Elsa Jones, redakteur.
* Berig: Nick Pretorius