GEMSBOK-UPINGTON: Klein maar getryn, lui die spreekwoord, maar Roné van der Merwe is baie meer as net dit, sy het die spreekwoordelike staal in haar pype. Sy is vrou in die tradisionele manswêreld, maar sy staan nie ‘n treë terug nie.
Roné is een van vier vakleerlinge by North Western Ford op Upington en haar drome strek ver.
Wanneer haar kontrak tot ‘n einde kom en sy ‘n gekwalifiseerde tegnikus is, wil sy verder kwalifiseer in ‘n meer gespesialiseerde rigting. Eendag wil sy nog haar groot droom verwesenlik, deur in die wêreld van motorsport te werk.
Denise van Niekerk Londte, handelaarsbestuurder by North Western Ford, sê dis ‘n plesier om Roné by hulle span te hê. Sy is baie leergierig en fluks. “Ons stuur net vakleerlinge op ‘n kursus wat wys dat hulle wil werk en wil leer,” het Denise gesê.
“Ons lei vakleerlinge op wat hulself bewys en daarom investeer ons in ons personeel,” het Denise voortgegaan.
Sy noem dat die vakleerlinge ook hier in Upington opgelei word deur Alpha Technical Training Center in Progressusstraat. Upington is die eerste dorp in Suid-Afrika wat so ‘n sentrum het en Denise kan getuig van streng en hoë gehalte opleiding wat aan vakleerlinge verskaf word.
Om terug te keer na Roné. Hoe het haar belangstelling om met voertuie te werk, nou eintlik begin? Sy sê op Hoërskool Duineveld se opedag het die skool vir vir hulle ‘n toer gegee van die verskillende vakke wat hulle aanbied.
Hul groepie is ook na die motorwerkswinkel toe gevat en daar het sy besluit dat sy die vak gaan vat, ongeag wat sy dalk eendag wil doen, want die vak het verskriklik interessant gelyk.
In die begin van graad 10, het Roné toe motor as vak gevat en omtrent middel graad 11 het sy besluit dat sy graag na skool ‘n diesel werktuigkundige wil word.
Sy noem dat sy en pa Johan, baie navorsing gedoen oor hoe sy dit gaan doen en op die ou einde het sy North Western Ford vir haar opleiding gekies - en “gelukkiger kan ek nie wees nie”.
Op my vraag hoe haar verhouding met die manlike vakleerlinge is en hoe hulle haar behandel, antwoord sy:
“Ek het ‘n goeie verhouding ontwikkel met my mede vakleerlinge. Daar is ‘n goeie en grappe-rige energie tussen ons. Ek was vir drie jaar die enigste meise in ‘n seunsklas en ek het gewoond geraak aan die tradisionele mansomgewing. Dit het gemaak dat ek maklik aangepas het in die werkswinkel en dus kom ek baie goed met hulle oor die weg. Hulle is baie respekvol teenoor my en help graag daar waar ek sukkel en bied goeie ondersteuning. Ek voel hulle beskou my as ‘n gelyke en sien nie neer op my omdat ek ‘n vrou is nie. Hulle verwag dieselfde van my as wat hulle van mekaar verwag in die werkswinkel. Ek voel dat ek, sowel as my mede vakleerlinge, aangemoedig en ondersteun word met ons werk en leerproses. Ek vind dit ‘n baie gesonde en stimulerende leeromgewing.”
Haar ouers, Johan en Adrie van der Merwe, is baie trots en ondersteunend oor haar keuse. Hulle is trots daarop dat sy haar plek by die werk met selfvertroue volstaan.
“Hulle is trots op my dat ek met my loopbaankeuse voortgaan en doen wat my gelukkig maak ten spyte dat ek ‘n vrou is in ‘n mansomgewing en nie bang is daarvoor nie,” het sy afgesluit.