NC Famous Lodges en die Red Ox Steakhouses het onlangs, saam met Namaqua Wines, ‘n reeks Red Ox-wyne bekend gestel, naamlik die Red Ox White, Red Ox Rose en Red Ox Red. Hierdie wyne is reeds by Namaqua Wines, asook by al die NC Foumous Lodges en die Red Ox Steakhouses beskikbaar.
Die idee vir ‘n huiswyn het van mnr Jean Lambrechts gekom, aldus Nicolaas Rust, groepsbestuurder: operasioneel van Namaqua Wines.
“Die huiswyne is ‘n eerste vir ons, maar beslis nie die laaste nie en is deel van ons suksesverhaal”, het Abé Colyn, voorsitter van Namaqua Wines se direksie gesê. NC Famous Lodges huur die Die Keldery se restaurant en lokaal sedert verlede jaar en die wyne was ‘n natuurlike uitvloeisel.
Die Red Ox Steakhouse en Die Keldery Venue is nou ‘n gewilde bestemming vir kos- en wynliefhebbers. Om betrokke te wees by ‘n huiswynreeks, was ‘n nuwe uitdaging vir ons, het Nicolaas gesê.
“Verskeie komponente is op hul eie geproe - uit vate en uit tenke - en toe is versnitte gemaak wat weer geproe is.
Die deurskynende bottels was ook ‘n uitdaging, die kleur moet perfek en stabiel wees vir deurskynende bottels. Die wynmakers was Rudi de Wet (senior witwynmaker), Louwritz Louw (senior rooiwynmaker) en Jaco Louw (junior wynmaker).
“Die wyn is die resultaat van baie ure in die wingerde, noukeurige beplanning in die kelder, gemeng met passie en inspirasie.
“Hierdie wyne is nie net ‘n produk nie, dis ‘n storie, dis ‘n huldeblyk aan die seisoene, die grond waarop ons wingerde groei en almal wat deel was van die proses om hierdie wingerde te groei en die wyne te maak.”
Jean Lambrechts het gesê hy en sy hele Red Ox-span is baie trots om geassosieer te wees met Namakwa Wines en teen die einde van Augustus is daar ‘n belangrike aankonding oor dié huiswyne.
NC Famous Lodges is besig met reuse-uitbreidings en sal binnekort meer as 600 beddens hê.
“Die Oranjerus-lodge buite Upington is die nuutste toevoeging tot ons groep en word tans opgeknap na vyf- ster-status. Ons bou ook ‘n groot ontwikkeling buite die Kgalagadi-hek en kyk ook na Springbok.
“Hierdie huis- wyn-projek is ‘n wedersydse blootstelling vir ons en vir Namaqua Wines. Al hierdie wyne is nou by al my eiendomme - lodges, al die drankwinkels, restaurante en my nuutste konsep, die Red Ox Pantry, beskikbaar. Die Pantry is kleiner en kompak, met kontreikosse vir die kleiner oorde.” * Berig verkort - Deur Maryke Roberts.