Of jy nou op Upington, Kanoneiland of Keimoes bly - Stop22 Padstal is verseker die ideale plek om na weg te breek en jou baterye te laai - terwyl die kinders in die buitelug baljaar.
Die gedagte van Stop 22 Padstal kom al ‘n lang pad. Amper so lank soos die N14!
In 2012 het die eienaar Marelie Louw – toe nog Greyling - begin droom van ‘n lekker plekkie om mense en kinders te onthaal, in wat haar nuwe tuisdorp sou word.
Dinge het langer geneem as beplan en die Louw gesin het uiteindelik platteland toe getrek vanaf Pretoria in 2020, waar Willem Louw Jnr oorspronklik vandaan gekom het.
Marelie sou ‘n ‘sebatical’ neem, om vir ‘n rukkie voltyds ma te kon wees en haar beroep as Vergoeding en Voordele spesialis opsy te skuif, maar daar was nie kans vir ‘n sebatical nie. Kort na hulle aankoms in Upington is Sunette Louw (Willem se moeder) oorlede.
Willem het toe die perseel wat geken word as Stop 22 in 2021 oorgekoop en Upington Graf-stene, wat tans hulle fabriek daar huisves uitgebrei met Marelie aan sy sy.
Planne het toe reeds begin vir ‘n kinder- speelplek vir hulle dogtertjie Bea. Maar toe hulle die perseel oorgekoop het, was daar nie eers ‘n dak op nie en kon hulle +-1m by elke deur inkom nie so vol bepak was die huidige gebou.
Met die groei van Upington Grafstene kon Willem uiteindelik vir hom ‘n fabriek bou en uit die huidige Stop 22 gebou beweeg - waar Marelie toe kon dinge optower.
Mens besef nie hoe baie werk gaan in so projek in nie en dit het baie langer geneem as wat hulle gedink het.
“Ons het baie struikelblokke gehad om alles in plek te kry en wou al eintlik Januarie 2025 ons deure oopgemaak het. Maar ons is nou reg – en het offisieel op Woensdag 2 Julie 2025 oopgemaak” vertel Marelie.
Stop22 gaan aan die begin net Woensdae – Vrydae 07:00 – 18:00 oop wees en Saterdae 08:00 – 18:00 en Sondae 09:00 – 16:00.
Daar is ook ‘n deli waar mens vinnig kan stop en ietsie om te eet koop asook ‘n restaurant met ‘n basiese menu waaraan gaste kan knibbel terwyl die kinders in die 1000 vierkante meter omheinde speelplek baljaar.
Stop22 Padstal het vier ander bewoners ook - wat daaglik kos gegee kan word – Kitty Kudu, Larry Llama, Turbo Blouwildebees asook Frikkie die Springbok.
“En ons dranklisensie is ook in plek, so pappa kan ‘n bier drink, terwyl mamma shop en die kinders speel.”
Marelie vertel “Ons wil ‘n omgewing skep waar mense kan kom ontspan en net “wees“. Waar hulle vergeet van hulle fone en weer die nostalgie van hulle kinderdae kan herleef en net rustig wees. Dus is dit ‘n veilige spasie vir werkers, asook gaste – en moenie gejaagd hier aankom nie – want hier drink ons koffie soos die kan hom skink.
Daar is nog baie ander planne in die pyp-lyn – maar vir eers maak ons die padstal met kinderspeelplek oop en later wil ons nog lekker dinge op die perseel bied.
Maar vir nou fokus ons eers op lekker kos, lekker shop en lekker speel.