GEMSBOK-UPINGTON: Die kaalvoetklong van die Kalahari, Jaco Liebenberg, deel sedert 20 April vanjaar sy “filmpies” op Facebook, onder Jaco Ka-laari.
Hier gesels hy elke dag oor sy doen en late. Die afgelope tyd kon sy volgers jagtyd saam met hom en jagters wat al jare in die Kalahari kom jag, meemaak.
Wat Jaco se geselsies so interessant maak, is dat dit altyd voor die kospotte gedoen word. Hy is van kleins af baie lief vir kosmaak en het altyd sy broodbak en kosfoto’s op Facebook gesit. Toe dink hy, hy gaan kort video’s maak en dit met sy vriende deel. Die “filmpies” het so gewild geword, dat dit hom nou baie besig hou.
Jaco is ‘n avonturier in murg en been. Hy hou baie daarvan om rond te reis, veral na onbekende plekke en dit dan met sy vriende te deel.
Hy beplan nie noodwendig wat hy alles gaan sê nie, hy doen sy video’s self en dit wat hy sê kom vanself. Jaco probeer nie om snaaks te wees nie, hy praat sy prate soos hy gewoond is om te doen. En natuurlik altyd kaalvoet. Hy dra dan ook Elandsbaai se Kaalvoet Boer-broeke en jy sal hom altyd sien in Bosbul-hemde.
Die uitdagendste deel van die skep van inhoud vir video’s, is dat daar nie genoeg ure in ‘n dag is om alles te doen nie. Jaco moet ook nog sy “regte” werk doen. Dan is daar plekke waar die opvangs maar ‘n uitdaging is, maar daarmee het URB hom baie gehelp.
Van Jaco se “filmpies” wat baie gewild was, was toe hy “Nabbas” aan mense bekend gestel het en ook toe hy op Hondeklipbaai vis op die hawe gekoop het en daar met die vissers gesels het.
Jaco is ‘n boorling van Upington en het hier skoolgegaan. Hy is baie lief vir die see en woon groot gedeeltes van die somer in Gansbaai. Sy ideel is om in die winter in die Kalahari te wees en somertyd by die see.
Hy beplan nou verskeie ekskursies na onbekende plekke, soos die wat hy in Namakwaland gedoen het. Hy gaan nou die onbekende paaie van Namakwaland aandruf en vir mense sê waar hulle die mooiste blomme kan kyk. Daarna wil hy die suide van Namibië besoek voordat hy die somer na Gansbaai gaan.
Wat Jaco graag volgende jaar wil doen, is om ‘n reeks te begin, “Elke uur vertel ‘n storie,” Hy gaan in die Overberg daarmee begin, so hou hom dop.
Jaco sê mense se positiewe kommentaar inspireer hom. Hy wil mense opbeur met sy vertellings. So, as jy Jaco en sy bonthond, Aitsa, met die rooi bakkie sien rondry, weet jy hy is op pad na sy volgende bestemming.