Fields marked with an asterisk (*) are required.
Name *
Username *
Password *
Verify password *
Email *
Verify email *

Community News
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

deur Elsa van Rhyn

GEMSBOK-UPINGTON: Oom Trompie Burger het verlede week 85 jaar oud geword en die Gemsbok is uitgenooi om ‘n bietjie by hulle te gaan kuier.
Oom Trompie het nie baie bekendstelling nodig nie. Baie inwoners van Upington onthou hom as eiendomsagent by Trompie Eiendomme of die oom wat so mooi trekklavier kan speel en dan nog natuurlik, as Trompie wat so lief is vir ou motorkarre.
Met my kuier daar, het tannie Helena hom gou reggehelp toe hy vir my gesê het, hy dink hy het nog so 20 ou voertuie. Nee, het sy gesê, dis nader aan 30, Trompie.
Maar dit daar gelaat, ‘n mens kom nie tussen ‘n man en sy voertuie nie.
Oom Trompie Burger het in die Askham-omgewing grootgeword waar sy ouers op die plaas, Gramond, geboer het.
Na skool het hy hom as passer by die Spoorweë gaan bekwaam. Dit was in Usakos in Namibië.
Dit is ook daar waar hy tannie Helena ontmoet het. Hulle is vanjaar 65 jaar getroud.

 
Oom Trompie vertel hy het eers ‘n mooi ou kar gesien, dié gekoop en daarna het hy vir tannie Helena ontmoet.
Hulle is ook op Usakos getroud en het vyf kinders. “Willem en Thys is op Usakos gebore, Ronel in Windhoek, op pad na die hospitaal. Mariëta en Elna is ook in Windhoek gebore,” vertel tannie Helena.
Op Usakos het oom Trompie op stoomlokomotiewe gewerk en toe hul Windhoek toe trek, het hy op diesellokomotiewe gewerk.
Daar het die egpaar ook ‘n winkel gehad, ‘n elektriese winkel en platewinkel. Musiek was nog altyd een van oom Trompie se liefdes en hy het ook later, as onderwyser, sang gegee.
In 1972 het hy by HTS as tekeninge onderwyser begin. Hy het tien jaar daar klas gegee voordat hulle Upington toe getrek het.
Hy het in 1982 Trompie Eiendomme begin. En dis hoe baie mense hom ken. Om my vraag, hoekom eiendomsagent, het hy geantwoord.
“Ek het geweet ‘n huis is ‘n be-legging. Ek hou baie van mense en met die koop, verkoop en verhuring van eiendomme, ontmoet ‘n mens baie mense.
Hy het gesê in daardie beginjare het hulle min kommissie verdien. Voor ek verder kon praat, het tannie Helena my in die rede geval.
“Elsa, jy sal nie glo met watter kommissie Trompie al hier by die huis aangekom het nie. Van ‘n goue fisant (wat so pieperig was), ‘n alsation hond tot ‘n bottel whiskey”, het sy geglimlag. “Die bankbestuurder het eendag vir my gesê dat ‘n mens nie rekeninge met sulke kommissie kan betaal nie.”
Oom Trompie het maar net liefdevol geglimlag. “‘n Mens moet met ‘n oop hand gee, jy sal wel beloon word,”
Oom Trompie se kleinkinders is vreeslik vir hul oupa. Zaskia skryf: “Om te sê dit is ‘n voorreg om ‘n oupa te hê, is ‘n afgewaterde uitdrukking. Alhoewel, dit is ‘n besonderse voorreg vir ons ses Burgertjies om te kan sê: “Trompie is my oupa.” Hy is ‘n rolmodel, onderwyser en biblioteek vir ons elkeen gewees. Ons ken hom nou nie vir 85 jaar nie, maar die handjievol dae wat ons hom ken (vandat hy ons die eerste keer vasgehou het tot die “touch” wat ons nog steeds deur die karvenster speel), kon ons nie eenkeer die voorreg miskyk nie.”
Van die ouer inwoners van Upington sal die Burgers ook onthou as die eienaars van die laaste inry op Upington. Baie mense het van ver af gery om hul gunsteling film hier te kom kyk. Dit was omtrent ‘n uitstappie vir mense sover as Olifantshoek, Kenhardt en Kakamas.
Oom Trompie se onthoustories is nog lank nie op nie. Hy waag dit nog so af en toe in een van sy ou motors deur die dorp se strate en gaan besoek sy vriende van die ou motorklub.
Ons hier by die Gemsbok sal hom as buurman onthou en as die oom wat altyd ‘n lekkertjie uitgedeel het, dan nog so skelm ook, so asof die ander nie mag sien jy kry ‘n “sweety” nie.