GEMSBOK-VANZYLSRUS: Op 8 Oktober 2025 het die storievertellers en skrywers van die omgewing tydens die eerste Van Zylsrus Kunstefees vergader om hul kennis te deel.
En ’n mens kan nie anders as om verstom te staan oor die talent onder die plaaslike inwoners se neuse nie! Elke dag gebeur ’n storie; dit moet net vertel word, en party stories moet vir die nageslag in geskrewe vorm bewaar word.
Dit was ’n luister-kuier oggend gevul met Kalaharistories. Tussen die kameeldoringbome en sandduine lê meer stories as wat ’n mens gedink het. Dit word ook al hoe duideliker waarom die inwoners van hierdie omgewing rondom die braaivleisvuur kort-kort uitbars van die lag.
Die skrywers wat al boeke gepubliseer het, was ook teenwoordig. Chummy de Bruin, Heleen Bruwer en Zelda Mans (Brits) kon hul boeke bekendstel. 
Chummy vertel van haar boek, Kalaharistories. Dit is nie altyd maklik om ’n boek gedruk te kry nie, maar deur moed te hou, is ’n uitgewery gevind en baie eksemplare is al verkoop. Sy het in 2017 in haar skryfargiewe gaan grawe toe Van Zylsrus as Kwêla se dorp van die jaar aangewys is.
Heleen Bruwer sê die volgende: “Ons as skrywers skryf, want dit is ons antidepressant in die lewe. In ’n wêreld swaar belaai met emosie en delikate wisselwerkinge, bied skryf ‘n ontroerende blik op die liefde en verlies. Skryf neem jou op reis na selfontdekking. Selfs wanneer die lewe op sy donkerste draaie neem, belê ’n skrywer in die krag van geloof en hoop sodat jou hart weer skoon is.” Heleen is ’n skrywer en digter. 
Zelda werk aanlyn as redigeerder en teksskrywer. Sy het al twee romans gepubliseer en sê dat ’n leë rekenaarskerm vreesaanjaend is. Dan gryp sy na papier sodat die skrywery kan voortgaan. Sy het ook kopieë van die kinderboek: Die katte van Kathu sit hul dorp op die “mêp” geskryf deur Adriaan Swanepoel, saamgebring. 
Pieter Pienaar, wat die Kunsweek georganiseer het, se boek: Kalahari Kwashale & Sketse – ’n koffietafelboek met ’n versameling van sy kunswerke en foto’s oor die Kalahari – is ook ten toon gestel. Dit is ’n boek wat die Kalahari se skoonheid in beeld vasvang. Pieter gebruik verskillende mediums, onder andere waterverf, pen en ink, en olieverf. Hy vertel dat dit ook ’n gesukkel was om ‘n geskikte uitgewer te kry, maar gelukkig het hy uiteindelik ‘n baie talentvolle persoon gekry wat kunstig en meesterlik die bladuitleg gedoen het. 
Ander skrywende inwoners het vertel wat hulle inspireer om te skryf en kreatief te wees. Volgens plaaslike inwoner en digter, Petro Spangenberg, was dit ’n fees om tydens die Kunsweek tussen soveel regterbrein persoonlikhede te wees. “Dit was heerlik om die inwoners se bydraes oor die Kalahari te lees,” sê sy.
Pieter het ’n boek saamgestel, Kalahari Pennevrug, waarin stories en gedigte van die omgewing se skrywers opgeneem is. Hélène Burger het die teksversorging daarvan gedoen. Die samestelling van stories en gedigte is verniet deur Bethal Foto Drukkers gedruk. 
Volgens Pieter is die beplanning vir volgende jaar se Kunsweek reeds aan die broei en is die moontlikheid van ’n skryfskool groot.  
** Geskryf deur: Hélène Burger en Zelda Mans
																					








