GEMSBOK-UPINGTON: Erfenis... Hoe belangrik is dit? Dis soos ‘n weeskind, ’ n aangenome kind.
Maak nie saak waar jy jouself bevind in die lewe nie, eendag gaan jy stil sit en daardie vraag gaan in jou binneste opkom - ‘n worsteling. ’n Vraag wat jy eerder wil vermy - dalk om ander se gevoelens te spaar of die teleurstelling wat daarmee gepaard gaan, te vermy.
Dis ook nie dat jy ondankbaar wil wees teenoor die mense wie daar was vir jou nie, diegene wat jou gevoed en geklee het, die wat jou ten spyte van alles, onder hul vlerk geneem het en jou help opgegroei het tot die persoon wie jy vandag is.
Wie jy is, waar jy vandaan kom en waarheen jy oppad is, maak alles saak. Dis wie jy is. Dis jou identiteit. Jou wortels, altyd diep geanker.
Erfenisdag of - maand gaan nie net oor tradisionele klere aantrek of tradisionele kos eet nie, dit gaan oor die geskiedenis van ons - paar geslagte terug. Wel, as jy tyd het, hoekom nie jul familie stamboom navors. Afgesien daarvan, jou identiteit is jou nalatenskap vir generasies wat nog kom.
Om hierdie rede het Vlytige Bejaardes na die Kalahari Oranje Museum gegaan. Die vriendelike Jolene van Niekerk, kurator van dié museum, het hulle ingelig rakende die historiese gebeure rondom die Sendingkerk.
 Hulle kon die kerk en ander geboue besigtig. Upington se geskiedenis is eie in sy soort, dit sluit Naamgewing, as jy sou wonder, Landbou en transport, dis waar die donkie ‘n belangrike rol vervul het, daarvolgens, is die museum ook die tuiste van die donkie standbeeld en soveel meer.
Na die Bejaardes se kuiertjie aan die museum, was hulle aangenaam verras met koek en koeldrank by Red-Ox, wat deur ‘n anonieme weldoener geskenk is.  En nee, dit was nie die einde van hul uitstappie nie. Na hul kuiertjie op die dek, was dit tyd om die swart potjie op die vuur te laat prut, lekker roosterbrood te braai en gesellig te verkeer met volksliedjies en stories van toeka se tyd.  Dit alles sommer net daar by die museum, onder die koelte bome, vars briesie en ‘n uitsig soos min. 
Dis asof die karakters van die verlede lewend word, met hul Voortrekkerklere en wie kan daardie voorskoot weerstaan. Voorskoot met soveel betekenis en herinneringe. Dit was nie net vir hande of skottelgoed afdroog, ook ‘n traan of twee. Vye of kwepers dra na die tafel om vir kleinkinders te skil en dalk net Pietman se neus afvee. O, moenie jou gesig op ‘n knop wil trek nie, dit was mos so.
Doen jouself ‘n guns, besoek die museum. Dis verbasend hoeveel inwoners van Upington, nog nie by die museum ingeloer het nie. Dis gratis, verniet en so die moeite werd.
																					








