GEMSBOK-UPINGTON: Dis weer tyd vir die jaarlikse Poppiedag Herdenkingsdiens wat by die NG Kerk Upington-Wes gehou word.
ALLE huidige dienende lede in enige van ons Magte en hul families, asook alle veterane met hul families word uitgenooi na die diens op 9 November 2025. Dis die derde jaar wat hierdie besondere dag herdenk word.
Poppiedag word Wêreldwyd herdenk op die 11de van die 11de maand elke jaar of dan die naaste Sondag aan die 11de. Met die diens gee ons erkenning aan almal wat tydens oorlog konflik gesterf het maar betuig ons ook dankbaarheid teenoor die Vader vir hulle wat veilig kon terug keer na hul geliefdes.
Die versoek is, waar enigsins moontlik, moet huidige dienende lede dit in uniform bywoon en alle veterane van erkende veterane organisasies in hul se- remoniële drag. Beide met medaljes. Die drag is egter opsioneel, wat belangrik is, is u teenwoordigheid daar.
As deel van vanjaar se Herdenkingsdiens (Poppy Day) gaan ons ’n spesiale In Memoriam-huldeblyk insluit om hulde te bring aan almal wat oor die afgelope een of twee jaar oorlede is, hetsy in diens of as afgetrede veterane
Pieter de Kock sê hy wil graag die rang en volle naam van elke individu op groot skerm vertoon as ’n teken van respek en waardering vir hul diens en opoffering.
Stuur asseblief die besonderhede (rang en naam) van enigiemand wat in hierdie huldeblyk ingesluit moet word teen 31 Oktober 2025, sodat ons almal gepas kan eer.
U kan die besonderhede aan my stuur via WhatsApp by 082 789 9849 of per e-pos aan 
Almal kom half nege die oggend aan die Noordekant van die kerk by mekaar (skougronde se kant) waarna die groep inbeweeg nadat belangstellendes reeds in kerk gebou is. Die gereserveerde plekke vir dienende lede en veterane sal later bekend gemaak word. Sien u daar, 08:30 op Sondag 9 November 2025 by die NG Kerk Upington-Wes.
Tydens die diens sal daar ‘n kranslegging gehou word, die Last Post sal gespeel word, ‘n spesiale voordrag sal gelewer word en daar sal onder meer ‘n oomblik van stilte gehandhaaf word.
Danielle Smith gaan weer optree. Sy gaan, “Someone to remember me”  sing. Die lied is spesiaal geskryf vir dié dag.
Die papawerblom is die simbool van Herinneringsdag. Dié blom word geassosieer met slaap, vrede en dood.
																					








