GEMSBOK-UPINGTON: ‘n Volskaalse Fase 3 noodoefening is verlede Donderdagaand by die Upington Internasionale Lughawe uitgevoer.
Die scenario wat geskep is, was ‘n vliegtuig wat net buite die gronde van die lughawe, neergestort het.
Scenario: ‘n Airlink vliegtuig wat 15 professionele jagters vervoer het, asook hul gesinne (40 persone) van die Demokratiese Republiek van die Kongo, was aan boord. Op pad na Upington het die loods laat weet dat daar vuurwapens aan boord is, asook ‘n pasiënt wat moontlik ‘n aansteeklike sieke (Ebola virus) het.
Die doel van die oefening was om te kyk of die Vliegveldnoodbestuurstelsel (AEMS) by die lughawe effek- tief is. Daar is ook vasgestel of Upington Lughawe voorbereid is om so ‘n ongeluk te bestuur en hoe alle belanghebbendes reageer.
Die AEMS stelsel, asook die lughawe se sekuriteitstelsel moet elke twee jaar getoets word om vas te stel of:
* daar enige potensiële gapings en swakpunte is;
* om verskillende rolle en verantwoordelikhede te verduidelik;
* om voorvalkoördinering en samewerking te verbeter;
* om belanghebbendes op te voed en bewust- heid te skep in verband met sulke ongelukke;
* om departementele en individuele bevoegdhede te verbeter, asook
* om openbare vertroue en bewustheid op te knap.
Volgens Marius Valla, brandweerhoof van die lughawe, het al die betrokkenes goed reageer. Binne 20 minute na die ongeluk was al die rolspelers - nooddienste, asook munisipale en provinsiale verkeer, op die toneel. Die beseerdes is in die veldhospitaal gestabiliseer voordat hulle na die verskillende hospitale vervoer is. Die ongeluk was 18:20 en om 20:20 was alle persone, beseerdes en oorledenes van die toneel verwyder en by hospitale. Tien persone is na die ongeluk dood verklaar en daar was 30 pasiënte. 
Marius sê hoewel die betrokkenes onkant gevang is tydens die “golden hour”, het almal voldoende reageer om die oefening suksesvol te verklaar.
																					








