GEMSBOK- Daniëlskuil: Twee polisiebeamptes van Daniëlskuil het bewys dat hulle kalm kan bly onder druk – selfs wanneer hulle van aangesig tot aangesig met van Suid-Afrika se dodelikste slange te staan kom.
Sersant Lebogang Moreothibang en konstabel Kesaoleboga Thomas het onlangs gespesialiseerde opleiding in die veilige hantering van giftige slange voltooi, wat by die Idwala-myn gehou is.
Die kursus, wat beide teorie en praktiese vaardighede gedek het, het deelnemers toegerus om slange te vang en te hervestig sonder om hulle of die publiek skade aan te doen.
Volgens ‘n Noord-Kaapse polisiewoordvoerder, kolonel Cherelle Ehlers, vorm die opleiding deel van ‘n breër poging om gemeenskapsveiligheid en gereedheid in landelike polisiëringsgebiede te verseker.
Tydens die kursus het die twee beamptes in noue kontak gekom met verskeie hoogs giftige spesies, in- sluitend die pofadder, groen mamba, boomslang en nagadder. Hul suksesvolle voltooiing van die program beteken dat die Daniëlskuil SAPD nou opgeleide lede het wat veilig kan reageer wanneer slange in huise, skole of werkplekke gevind word.
Met hul nuwe vaardighede is sersant Moreothibang en konstabel Thomas nou beter voorbereid om beide mense en wildlewe te beskerm – en potensiëel gevaarlike ontmoetings in veilige reddings te omskep wat die gemeenskap kalm en veilig hou.
																					








