GEMSBOK-UPINGTON: Met ‘n uitmergelende droogte wat al vir meer as ‘n dekade oor die Boesmanland heers, word elke druppel water wat in die stof neer plof, soos manna uit die hemel ontvang.
Sedert Donderdag weergalm blydskap en verligting oor welkome reën vanaf elke grenslyn in die provinsie.
Die Kalahari is nat.
Dele van die Namakwa is nat.
Op groot dele van die Boesmanland en die Hantam lê sopnat poele reënwater en blink.
In die Hantam het sommige plase tot 80mm gekry, die grootste dele van die Kenhardt distrik het gemiddeld so 50mm gekry en die Kalahari spog self met reënval tussen 12mm en 80mm.
Nee, die droogte is nog nie gebreek nie.
Dit gaan meer as een of twee reënvlae neem, maar vir nou is almal dankbaar - want water bring hoop en lewe!
Jeanetta Visser skryf uit die Boesmanland: “En toe reën dit....eers die mooiste mooi wolke wat kom, dreig, belowe en woeps verdwyn....
Dan kom die wolke en mooi-weer en jy begin veskeie berigte hoor:10mm hier,15 daar...20 elders... En vir elkeen wat kan reën rapporteer is jy in jou siel bly...
Dan is dit ons beurt...ons kry ook reën en ek staan verootmoedig, want hoe sê mens dankie...Wie is ek nietige mens dat God my gebed verhoor?
Maar net as jy al droogte beleef het, veldskaap wat soos werfhonde agter die bakkie aanhardloop vir voer, dan weet jy wat 10mm reën beteken.
As jy hangskouers beleef het as jou man uit die veld kom, met vraggie skaap wat moet “gehelp”word, dan weet jy...
As hy hoeveelste maal sê: as dit nie kom reën sal ek maar moet my ooie bemark,en as jy boer sal jy weet ooie is boer se pride en joy...
As jy oor die radio hoor hoe stads-mense kla oor dit “alweer” reën...
Nou het dit gereën, my gebede, heel dag, oral, as ek snags wakker word, is verhoor...en ek is so dankbaar, nie net vir onsself, maar vir elke foto en video waar dit reën jubel ek saam... En al wat ek kan sê is: Dankie,ons dien ‘n Lewende,regverdige God.”