GEMSBOK-UPINGTON: Die Noord-Kaapse LUR vir onderwys, Abraham Vosloo, het opvoeders verseker dat hulle hul poste in die provinsie sal behou, ondanks die aggressiewe begrotingsbesnoeiings wat deur die minister van basiese onderwys aangekondig is. Hy het gesê die departement sal in die huidige boekjaar R47 miljoen opsy sit, deur kostebeper-kingsmaatreëls en die besnoeiing van goedere en dienste, om te verhoed dat onderwysers in die Noord-Kaap afgelê word.
“Die impak van die verlies van 663 onder-wysers sal te erg wees. Ons kan nie wegdoen met basiese hulpbronne by 554 skole in die provinsie nie,” het Vosloo gesê. “Ons sal eerder op projekte afskaal en met ‘n bietjie minder oor die weg kom en eerder daarop fokus om te verseker dat ons onderwysers in die klaskamer het.
“Ons sal met die Nasionale Tesourie in gesprek tree om meer hulpbronne te verkry en die beskikbare begroting van R8,1 miljard te herprioritiseer.
“Ons wil nie kompromie aangaan oor leerdervervoer, die verskaffing van leer- en onderrigondersteuningsmateriaal nie.”
Vosloo het bygevoeg dat hulle bykomende onderwysers sal aanstel om die personeeldiens te vergroot.
“Ons het 51 graad R-praktisyns regoor die provinsie aangestel.”
Die LUR het ook gesê hy is vol vertroue dat die provinsie sy matriekslaagsyfer sal verbeter om die 2023 nasionale gemiddelde van 82,9 persent te pas.
Die Noord-Kaap het verlede jaar die laagste posisie in die land behaal met ‘n 75,8 persent slaagsyfer.
“Oor die afgelope vier jaar het die slaagsyfer met byna 10 persent verbeter. Ons het in meer hulpbronne en onderwysersopleiding belê, met meer as 9 000 graad 12-leerlinge wat naweek- en vakansiekampe bygewoon het. Ons het daarop gefokus om bykomende graad 12-klasse aan te bied om Wiskunde-, Wetenskap- en Lewenswetenskappe-uitkomste te verbeter,” het Vosloo gesê.
Hy het opgemerk dat meer intense ondersteuning in die John Taolo Gaetsewe- en Frances Baard-distrikte gebied is, waar ‘n hoë konsentrasie matriekleerlinge geleë is.
“Deur hierdie pogings beoog ons om die slaag-syfer tot 82,9 persent in 2024 te verbeter,” het Vosloo gesê.