GEMSBOK-PABALLELO: Die skynbaar doellose moord op ‘n buitelandse winkeleienaar van Paballelo, het die gemeenskap die afgelope week met verskeie teorieë gevul, maar nòg die motief nòg die verdagtes is na bykans ‘n week gekry. Die polisie in Paballelo het ‘n moordsaak vir ondersoek aanhangig gemaak, na aanleiding van ‘n skietvoorval waartydens ‘n 34-jarige snoepwinkeleienaar die aand van Dinsdag, 22 Oktober 2024 noodlottig gewond is.
Op ‘n sekuriteitsvideo kan gesien word hoe die slagoffer na die veiligheidshek stap en die verdagte hom deur die tralies skiet.
Die slagoffer val agteroor en is dan buite sig.
Die verdagte spring daarna oor die veiligheidshek en gaan - vermoedelik na waar die slagoffer geval het.
Sekondes later spring hy weer oor die heining en verdwyn.
Dis onbekend of daar meer as een verdagte op die toneel was.
Die verdagte/s het ná die skietvoorval van die toneel gevlug.
In dié stadium is geen arrestasies gemaak nie en die polisie het ‘n soektog na die aanvaller/s van stapel gestuur.
Die motief agter die skietery moet nog deur ondersoek vasgestel word.
Die publiek word versoek om te help met inligting wat kan lei tot die aanhouding en arrestasie van die verdagtes en word gemaan om hulle nie te nader nie.
Enigiemand met inligting kan die ondersoekbeampte, kst Links, kontak by 076 022 8819/ SAPD tolvry nommer 08600 10111 of alternatiewelik anoniem aanmeld via die MySAPS App.