GEMSBOK-UPINGTON: Nadat ‘n verwoestende brand Vrydagoggend in die Upingtonse middedorp uitgebreek het, het vrae oor die welstand van die dorp en die bestuur daarvan weereens onder lede van die publiek en ander rolspelers opgevlam.
“Fonteine” water wat bedoel is om die brand in die Upingtonse sakesentrum Vrydag-oggend te blus, het vanuit die brandslange van die Dawid Kruiper Munisipaliteit se brandweerwaens in die strate gespuit.
Die effektiwiteit van die brandweer is weereens onder bedenking gebring, nadat ACSA se brandweer weer moes hand by sit om die brand, wat al sedert omstreeks 02:00 woed, onder beheer te bring.
Die oorsaak van die brand wat bykans ‘n hele blok tussen Mark-, Park-, Scott- en Lutzstraat in puin gelê het, is steeds onbekend.
Vir dekades al kla die inwoners van Upington oor die agteruitgang van die plaaslike brandweer.
Menigte Gemsboklesers is dit eens, dat as dit nie vir die ACSA brand- en nooddienste span was nie, het die eens florerende dorp lankal in ligte laaie opgegaan.
In Augustus 2023 het ‘n raadslid van die munisipaliteit, raadslid Hennie Roux, sosiale media aan die gons gehad - na afloop van ‘n besoek aan die DKM brandweerstasie.
Hy het in ‘n video die agteruitgang van die stasiegebou beskryf.
“Die noodreddingstoerusting is in nog ’n hagliker toestand. Daar is geen “HAZMAT” toerusting wat tydens chemiese storting gebruik kan word nie. Die “HAZMAT” wat hiervoor gebruik was, is verouderd en geroes en sal glad nie vir die taak aangewend kan word nie.
Die wa se wiele is pap en is nie meer padwaardig nie. In die skuimstoor waar skuimtoerusting, wat gebruik word vir petrolbrande gestoor word, staan die toerusting onder stof. Dit is onbruikbaar en na bewe-ring is die rede hiervoor dat die onderdele nie meer beskikbaar is vir onderhoud nie en dus onbruikbaar is.
Ek twyfel dat enige van die toerusting in hierdie brandweerstasie aan enige minimum vereistes of standaarde voldoen. Die enigste toerusting, wat ek kon sien, wat gebruik kan word is die brandweerwa wat geheel en al onvoldoende is vir die omgewing wat dit moet bedien.
Upington het ’n uitgebreide besigheidssakekern met verskeie geboue wat 3 tot 5 verdiepings hoog is. In die geval van ‘n brand sal sulke geboue skaars deur die brandweerwa bereik kan word.
’n Land Cruiser bakkie wat tans daar is se brandbestrydingsenjin is foutief en hul sukkel om die regte onderdele daarvoor te kry. Die voertuig kan tans ook nie vir kleiner brande gebruik word nie.
Dawid Kruiper Munisipaliteit se reaksie op navraag rondom rdl Roux se verslag was as volg:
“Die Munisipali-teit neem kennis van u navrae en wil die volgende daarop reageer. Die gedeeltes wat deur Raadslid Roux uitgewys is, is nie tans in gebruik deur die brandweer nie, omdat ons bewus is van die gebreke. Die Burgemeesters Komitee het ‘n terplaatse ondersoek by die brandweer gedoen. Ons is besig met herstelwerk by die brandweer. Van die gebreke is reeds aangespreek.”
Maande later lyk dit of die gebreke nog nie aangespreek is nie.
DKM het in 2020 erken dat sy kapasiteit, insluitend dié van sy brandweer, nog nooit aangepas en verbeter is na die samesmelting van die voormalige //Khara Hais en Mier plaaslike munisipali-teite nie.
Ten spyte van beloftes om die probleme en tekortkominge aan te spreek, word die munisipaliteit steeds daarvan beskuldig dat hy sy brandweer, wat na bewering nie op standaard is nie en swak dienste aan die gemeenskap lewer,verwaarloos het.
Klagtes en kommer word gereeld geopper dat die munisipaliteit slegs een volwaardige brandweerwa het om voorsiening te maak vir die grootste munisipale gebied in die Noord-Kaap.
Daar word ook beweer dat die brandweermanne nie voldoende beskermende toerus-ting het nie en dat die munisipaliteit afhanklik is van die Airports Company South Africa (Acsa)-dienste as daar ‘n brand is, omdat die vragmotor slegs 3 500 liter water het.
Die munisipale woordvoerder, Patrick Williams, het vier jaar gelede gesê, dat hoewel finansiële beper-kings die munisipaliteit verhinder het om die nodige aanpassings te maak sedert die same-smelting, dit wel daarin geslaag het om dienste te handhaaf.
‘Dit is duur om ‘n volwaardige brandweerdiens te bestuur. Die koste van een volwaardige brandweerwa is R4,5 miljoen. Die koste van die volledige toerusting of uniform vir ‘n brandweerman is R26 248. ” het Williams gesê.
Dit lyk nie of daar in die daarop volgende jare voorsiening gemaak is vir die opgradering van die toerus-ting in die munisipale begroting nie.
Dit is ook onduidelik of die bestuurspan hoegenaamd belangstel in verantwoordbaarheid vir die onderhoud en dienslewering van die nooddienste.
Omstanders van die nuutste brand het aan die Gemsbok vertel dat die brandkrane in die strate rondom die brandende gebou - wat reg oorkant die plaaslike munisipale gebou is - nie gewerk het nie.
“As raadslid is dit vir my ‘n groot bekommernis dat -nie net ons plaaslike sakesentrum nie, maar inwoners van die middedorp (en selfs ons woongebiede) afhanklik is van ‘n substandaard brandweer om ons te beskerm. Die brandweermanne van Dawid Kruiper plaas gereeld hul lewens op die spel met substandaard en swak onderhoude toerusting. Dit is ook hulle wat moet boet vir swak bestuur en wanbesteding - alles wat bydra tot die finansiële beperkinge waaronder die afdeling moet funksioneer,” het rdl Erica Strauss aan die Gemsbok gesê.