Die Noord-Kaapse departement van landbou, omgewingsake, landelike ontwikkeling en grondhervorming word deur rolspelers gemaan om te verseker dat hy die besproeiingstelsel in Onseepkans behoorlik aan die departement van water en sanitasie oorhandig en aan die nodige voorwaardes voldoen om ‘n mensgemaakte droogte te voorkom.
Ingeligtes meen die voormalige besproeiingskanaal is in 2014 deur ‘n pompaangedrewe pypleidingstelsel vervang, maar die kwaliteit van die pypleiding word bevraagteken en die filters is glo deurlopend verstop.
Dit stel watervoorsiening aan die oeste van 162 opkomende boere en kommersiële landboubesighede in gevaar, insluitend 110 hektaar rosyne wat op kommunale grond verbou word, asook uitvoerdruifproduksie, lusern en dadels.
Ten spyte van departementele versekering dat ‘n sonkragplaas gestig sal word om die pompe aan te dryf, word kommersiële landboubesighede steeds belas met die koste van die Eskom-rekening.
Dit blyk dat daar van hulle verwag word om onbepaald te betaal terwyl die departement min doen om die beloofde sonkragondersteuning te verseker,.
Kommersiële boere wil hulle glo aan die reëling onttrek, wat die instandhouding van die pypleiding sal beïnvloed en watervoorsieningbeperkings kan vererger.
Rolspelers sê hulle het die departementshoof herhaaldelik beroep om met die Onseepkans-besproeiingsraad in gesprek te tree
Dit lyk of die departement se ingryping beperk was tot die aanmoediging van alle rolspelers om ‘n werkbare oplossing te vind, sonder enige konkrete antwoorde op die tafel van die departement.
Die jongste Eskom-rekening het nagenoeg R600 000 beloop, wat onder die departement se aandag gebring is, sonder reaksie.
As dit die departementele benadering is, moet gevra word wanneer die departement van plan is om sy eie verpligtinge van hierdie transaksie na te kom?
Vrae aan die departement om sy voornemens te ondersoek, insluitend die status van die oorhandiging van die projek en gebeurlikheidsplanne vir watervoorsiening, indien kommersiële boere aan die projek onttrek, het nog geen duidelike reaksie van die departement geniet nie en rolspelers sal die saak nou na die premier eskaleer.