GEMSBOK-KURUMAN: “ PSA het verlede week ‘n beroep op die bestuur van Kuruman-hospitaal, die bestuur van die John Taolo Gaetsewe-gesondheidsdistrik en die departementshoof (HOD) gedoen om onmiddellik in te gryp, nadat video’s op sosiale media gewys het hoe pasiënte op die vloer in gange slaap, asook oorvol vullisdromme en verstopte wasbakke.
Hierdie is maar net ‘n paar van die uitdagings wat die Kuruman-hospitaal tans in die gesig staar.
Steve Ledibane, provinsiale bestuurder van die Staatsamptenarevereniging (PSA), het verduidelik dat die hospitaal gesondheidsorgdienste aan meer as 14 000 pasiënte in Kuruman en omliggende dorpe verskaf.
“Dit is maklik toeganklik vir die meeste van die bevolking wat mediese aandag benodig, hetsy gedurende die week of oor naweke,” het Ledibane gesê
.
“Om die fasiliteit in so ‘n vuil toestand te laat, met pasiënte wat gedwing word om op die vloer te slaap, word ten sterkste veroordeel.
“Die omvang van nie-nakoming van die Wet op Beroepsgesondheid en -veiligheid (OHSA) deur ‘n sekondêre gesondheidsinstelling is op sy minste afgryslik.”
Hy het bygevoeg dat die toilette nie spoel nie en dat slegs twee skoonma-kers beskikbaar was om die fasiliteit gedurende weeksdae skoon te maak.
“Jy kan nie vir pasiënte sê om nie oor ‘n naweek siek te word nie. Blootstelling aan sulke verskriklike toestande kan die immuunstelsels van reeds siek pasiënte verder benadeel. Dit lyk nie of daar enige poging is om die tekort aan personeel aan te spreek nie.
“Die PSA doen ‘n beroep op die bestuur van Kuruman-hospitaal, die bestuur van die John Taolo Gaetsewe-gesondheidsdistrik en die departementshoof (HOD) om onmiddellik in te gryp.”
“ Woordvoerder van die Noord-Kaapse Departement van Gesondheid, Lebogang Majaha, het gesê daar is planne om die Ongevalle- en Noodafdeling van Kuruman-hospitaal in die nuwe boekjaar op te gradeer.
“Daar moet kennis geneem word dat die fasiliteit nie voldoende kapasiteit het om die groeiende behoeftes van die bevol-king aan te spreek nie, wat in die gebied toeneem, veral as gevolg van verstedeliking,” het hy gesê.
Hy het bygevoeg dat modulêre strukture opgestel sal word om die saalruimte en ongevalle-area uit te brei, insluitend die pasiëntwagarea.
“Sake rakende personeel, mediese toerusting, instandhouding en netheid van openbare gesondheidsfasiliteite is sleutel prioriteitsgebiede wat deur die departement geïdentifiseer is en ontvang voortdurend aandag.”
Majaha het gesê die waarnemende hoof van gesondheid, Mxolisi Mlatha, is daartoe verbind om te verseker dat alle openbare gesondheidsfasiliteite in stand gehou, skoon is en aan OHSA-regulasies voldoen.
“Alle pogings sal aangewend word om aan die mediese behoeftes van gesondheidsorggebruikers en personeel te voldoen,” het hy gesê.