GEMSBOK-UPINGTON: Nadat hy in 2023 ‘n sosialemedia-plasing oor die verval van die Sakkie se Arkie terrein gemaak het - het Igshaan Sulliman, ‘n amptenaar van die Dawid Kruiper Munisipaliteit, nie net ‘n jarelange regsproses na sy skorsing uit sy pos by DKM verduur nie - maar hy het dit op homself geneem om dienslewerings tekorte van die munisipaliteit en ander staatsinstansies nou onder die vergrootglas te bring.
Na afloop van die video - waarin ‘n erg ontstoke Sulliman die DKM besluitnemers en rolspelers by die naam roep om verantwoording te doen oor die agteruitgang van die dorp se publieke oorde - in spesifiek die terrein waar Sakkie se Arkie vasmeer - is hy uit sy pos geskors met 18 dissipinêre klagtes teen hom.
Sulliman het sy unie verteenwoordiger laat onttrek en slegs met regshulp sy stryd teen Dawid Kruiper begin.
Sedert hierdie insident - lyk dit of Sulliman nog meer aangevuur is om die versuim van dienslewering en die wanbestuur van die Dawid Kruiper Munisipaliteit aan die groot klok te hang.
Sulliman se lot as werknemer van die Dawid Kruiper Munisipaliteit het tot verlede week in die weegskaal gehang - maar sy optrede en “dapperheid” het oor die jare die respek en ondersteuning van talle plaaslike inwoners en internetgebruikers geniet.
Noord-Kapenaars van oral oor het hulle die afgelope paar jaar na Sulliman gewend om hulle lot ook in sy gewilde en berugte “Facebook-lives” te bespreek. In die agtergrond het die ontslagsaak sy tol op die Sulliman-gesin begin eis.
Die bittersmaak van die saak, die stigma van ‘n “weggejaagde amptenaar”, onsekere toekoms en baie ander faktore het op Sulliman se skouers gerus, terwyl hy aanhou baklei het vir diegene van die gemeenskap, wie nie vir hulleself kan opstaan nie.
Tot die finale uitspraak gekom het is Sulliman weer verlede week terug in sy kantoor, by DKM se behuisingsafdeling.
Hy is onskuldig op al ses hoofklagtes en die 12 alternatiewe klagtes.
Op die vraag of hy nou sy rebellie teen bedrog, korrupsie en onderdrukking gaan staak, glimlag hy net en sê “Ek sal nooit onregverdigheid of bedrog toelaat nie, dit is n belofte wat ek onderneem todat ek my laaste asem uitblaas.
Ons het almal ‘n verantwoordelikheid teenoor die toekoms, nie net vir onsself nie, maar vir ons kinders.
Waar stilte heers, floreer bedrog. Die onuitgesproke woord word dus ‘n seën vir die skelm. Stilswye is dus ‘n subtiele toestemming.
Die regering van die dag het ‘n verantwoordelikheid teenoor alle landsburgers en ons as die publiek moet die goewerment aanspreeklik hou, om die belastingbetalers se geld verantwoordelik te spandeer - vir die vooruitgang en toekoms van alle Suid-Afrikaners en nie ‘n handjie vol politici nie.
Ons staatsgeboue en publieke ont-spanningsplekke, in alle dorpe en stede, behoort aan die publiek en derhalwe sal ons moet opstaan, wit ,swart en bruin en saam hande vat, ongeag ons kultuur en ras- verskille, want dit is ons almal se dorp en toekoms.”