GEMSBOK-UPINGTON: Twee Upington-gebaseerde skrootmetaalondernemings is met boetes geklap - nadat hulle skuldig bevind is aan die onwettige aankoop van Telkom-koperkabels, ná ‘n geheime ondersoek deur die Valke.
Die Upington-streekhof het Van Zyl Scrap Metal (Edms) Bpk vandeesweek skuldig bevind en gevonnis tot ‘n boete van R70 000, waarvan die helfte vir vyf jaar opgeskort is, vir die oortreding van die Wet op Tweedehandse Goedere.
Volgens ao Nomthandazo Mnisi, woordvoerder van die Valke Noord-Kaap, is die besigheid vasgetrek tydens ‘n geheime steekoperasie wat in 2020 van stapel gestuur is.
As deel van die ondersoek is Telkom-koperkabels aan Van Zyl Scrap Metal verkoop.
Ná drie transaksies is die operasie in Junie 2022 afgehandel, wat tot die maatskappy se vervolging gelei het. Die beskuldigde het verskeie hofverskynings gemaak voordat hy skuldig gepleit het, met vonnisoplegging wat op 5 Maart afgehandel is.
Intussen is OL Scrap Metal (Edms) Bpk in ‘n aparte - maar verwante saak ook skuldig bevind vir die aankoop van Telkom-koperkabels.
Dieselfde hof het die maatskappy vandeesweek tot ‘n boete van R35 000 gevonnis - nadat hy skuldig gepleit het op aanklagte ingevolge die Wet op Tweedehandse Goedere.
Adjudant-offisier Mnisi het bevestig dat OL Scrap Metal in 2020 in ‘n soortgelyke geheime operasie betrap is, wat ook in Junie 2022 met hul arrestasie geëindig het.
Die beskuldigde het op 5 Maart skuld beken en is gevonnis.
Die onderdrukking van onwettige koperhandel kom te midde van voortdurende pogings om infrastruktuurdiefstal te bekamp, wat ernstige diensleweringsonderbrekings regoor die Noord-Kaap veroorsaak het.
Owerhede het gewaarsku dat skrootmetaalhandelaars wat skuldig bevind word aan die aankoop van gesteelde koper, ernstige regsgevolge in die gesig sal staar.