GEMSBOK-UPINGTON: Sosiale media is weer sedert verlede week aan die gons, nadat ‘n skrywe vanaf Coghsta (Dept Samewerkende regering, menslike nedersettings en tradisionele sake) in die Noord-Kaap op verskeie Facebookblaaie gepubliseer is - waarin die departement die munisipale raad van die ZF Mgcawu Distrik Munisipaliteit maan, dat die waarnemende munisipale bestuurder nie oor die nodige posvereistes beskik nie.
“Die waarnemende aanstelling deur die munisipale raad is in stryd met die plaaslike regeringsregulasies oor die aanstelling en diensvoorwaardes van senior bestuurders, aangesien mnr Tieties se huidige pos as be-stuurder in die kantoor van die uitvoerende burgemeester is. Hy beskik nie oor die vereiste kwalifikasies, vaardighede, bevoegdhede en ondervinding soos voorgeskryf nie.” lui die skrywe.
Volgens die skrywe beskik Tieties nie oor ‘n Baccalaureusgraad in openbare administrasie/politieke wetenskappe/sosiale wetenskappe/regte of die ekwivalant, asook nie die relevante ondervinding op ‘n senior bestuursvlak en/of het suksesvolle institusionele transformasie binne die openbare of privaat sektor bewys nie.
Hierdie tekortkominge, maak die aanstelling van mnr Tieties as waarnemende munisipale bestuurder, onwettig.
Die enigste amptenare wat kwalifiseer as munisipale bestuurder is die direkteur van korporatiewe dienste en die direkteur van ontwikkeling en beplanning.
Hoof finansiële beamptes word nie toegelaat om op te tree as munisipale bestuurders nie.
Volgens die skrywe het die LUR van Coghsta hierdie in ‘n opdrag vorm in 2022 aan die raad uitgereik - maar dit bleik op dowe ore geval het.
Die onwettige bestuur deur mnr Tieties is volgens die LUR op verskeie geleenthede met die uitvoerende burgemeester opgeneem, maar die munsipale raad toon tans geen ag op die LG Munisipale Stelsels Wet en regulasies nie.
Die aanstelling van mnr Tieties as waarnemende munisipale bestuurder is in 2022 op ZFM se Facebookblad gemaak.
Tydens ‘n Spesiale Raadsvergadering op 28 Julie 2022, het die ZF Mgcawu Distriks Munisipale Raad, Tieties met ingang van 1 Augustus 2022 vir ‘n tydperk van drie maande as die nuwe wnde munisipale bestuurder aangestel. Op 2 Augustus 2022 het die uitvoerende burgemeester, raadslid M.C Basson tydens ‘n personeelvergadering die nuwe wnde munisipale bestuurder aan die ZFM personeel voorgestel.
“Mnr Tieties is ‘n gesoute amptenaar met 15 jaar ondervinding in plaaslike regering en het die laaste jaar as die wnde munisipale bestuurder by Kgatelopele gedien.” so is Tieties as waarnemende munisipale bestuurder aan die publiek voorgestel.
Dit wil sê, Tieties is waarskynlik ook voorheen onwettig by nog ‘n ZFM munisipaliteit was waarnemende munisipale bestuurder aangestel.
Daar word beweer dat hierdie munisipaliteit se speaker, burgemeester en MM glo vir finansiële misbruik in Danielskuil ondersoek word.
Die tydperk van waarnemende munisipale bestuurder is slegs ses maande, daarna kan die munisipale raad die LUR versoek om ‘n geskikte persoon te sekondeer op die voorwaarde soos voorgeskryf om in die geadverteerde pos op te tree, totdat ‘n geskikte kandidaat aangestel is. Volgens die kantoor van die LUR is tot op hede geen sodanige versoek deur die munisipaliteit gerig om enige onwettige optrede te vermy nie - die raad het egter die optrede van mnr Tieties na drie maande verleng.
“Dit is noodsaaklik om daarop te let dat die optrede vir mnr Tieties nie toegestaan word op grond van die redes hierbo verskaf nie.” skryf die LUR.
Daar word beweer dat, ten spyte van die skrywe vanaf Coghsta, die raad op 28 Oktober vanjaar weer Tieties se aanstelling as waarnemende munisipale bestuurder verleng het.
Die Gemsbok het na ZFM uitgereik vir kommentaar oor die situasie, maar dit lyk of die raad verkies om eerder stil te bly as om hulle kant van die saak te stel.
Foto: Tydens die bekendstelling van Alfred Tieties as waarnemende munisipale bestuurder van die ZFM Distrikmunisipaliteit. By hom staan Stanley Peterson (speaker) en Maryna Beukes (uitvoerende burgemeester).