UPINGTON: "U innemende persoonlikheid en standvastige karakter kan steeds 'n groot bydrae lewer aan ons skoolgemeenskap en aan u gesin," het die voormalige skoolhoof van die Primêre Skool Rosendal, mnr. Deen Mouton hier aan gaste gesê tydens mev. Veronica van Wyk se afskeid uit die onderwys verlede Vrydagaand in die Desert Palace Casino.
Mev. Van Wyk (63 jr) was vir 40 jaar in die onderwys waarvan sy vyf jaar as prinsipaal van Rosendal gedien het vanaf 2019 tot vanjaar.
"Ek is baie dankbaar vir die geleentheid wat ons Hemelse Vader vir my gegee het om as opvoeder my gemeenskap op hierdie wyse te kon dien", het sy gesê.
Tydens die onthaal het mnr. Mouton haar bedank dat sy Rosendal gekies het om haar lojaliteit en liefde vir die onderwys met groot toewyding te kon verrig. "U onfeilbare navol-ging van totaliteitsopvoeding van die kind, die handhawing van 'n gesonde verhouding tussen skool, ouergemeenskap, kind en leerkrag, het bygedra tot u suksesse as opvoeder," het mnr. Mouton gesê.
Mev. Van Wyk is die eggenote van wyle Charles van Wyk, 'n skoolhoof van Oranje-Oewer Primêr en die moeder van twee kinders, Charl (35), 'n onderwyser van beroep en Chané (31), 'n verpleegster en tans bestuurder by die Progress kliniek op Upington.
Mev. Van Wyk sien met afwagting uit "na 'n nuwe seisoen wat vir haar nou aangebreek het". Sy is dankbaar vir wat sy in haar lewe bereik het.
"Geniet die rus juffrou, ons beste wense vergesel u", lui 'n whatsapp- boodskap van die skool.
(Berig: Nick Pretorius)