GEMSBOK-UPINGTON: Die veertienjarige Sacha Willemse van Upington in die Noord-Kaap is ’n talentvolle jong swemmer wat met ’n lewensbedreigende siekte leef.
Hy het onlangs ’n droomdag beleef wat hom vir altyd sal bybly toe hy sy sportheld, die Olimpiese gouemedaljewenner Chad le Clos, ontmoet het.
Hierdie spesiale oomblik is moontlik gemaak deur Reach For A Dream, ’n stigting wat die afgelope 36 jaar kinders met ernstige siektes help om hul drome te bewaarheid. Hierdie drome bring broodnodige vreugde en hoop aan kinders wie se daaglikse lewens deur behandeling en onsekerheid beïnvloed word.
Sacha, wat droom om teen die ouderdom van twintig ons land by die Olimpiese Spele te verteenwoordig, het geen idee gehad wat op hom wag toe sy ma hom na ’n mini-gholfbaan in Kaapstad geneem het nie. Agter die toonbank het Chad le Clos gestaan en wag om die jong swemmer te verras. Toe Sacha om die hoek stap en sy held sien, het ongeloof vinnig in blydskap verander.
Die twee het onmiddellik gekliek. Ná ’n rondte mini-gholf het hulle saam middagete geniet. Chad het vir Sacha oefentegnieke verduidelik, raad gegee oor hoe om gemotiveerd te bly te midde van uitdagings, en aangemoedig om sy droom na te jaag.
Die dag is afgesluit met ’n onvergeetlike gebaar: Chad het ‘n getekende boek, ’n amptelike SA-swempet , en die swembroek wat hy gedra het toe hy ’n wêreldrekord gebreek het, aan Sacha oorhandig. Die swembroek is die enigste van sy soort in die wêreld.
Vir Sacha was hierdie droom baie meer as net ’n ontmoeting met ’n sportlegende. Dit was ’n keerpunt, en ’n herinnering dat sy doelwitte steeds haalbaar is, ten spyte van sy siekte.
Drome soos dié van Sacha word moontlik gemaak deur Reach For A Dream se nasionale inisiatiewe, insluitend Slipper Day, die stigting se grootste jaarlikse fondsinsameling, wat weer op 30 Mei 2025 gehou word.
Suid-Afrikaners word aangemoedig om vir die dromers ’n Slipper Day-plakker vir R20 aan te skaf, hul pantoffels daardie dag te dra, en te help om drome vir kinders soos Sacha waar te maak. Elke plakker wat verkoop word, help om oomblikke van vreugde, verligting en inspirasie aan kinders regoor die land te bring.
“Slipper Day, of Pantoffeldag, is Suid-Afrika se knusste fondsinsameling, en vanjaar doen ons dit vir die dromers,” sê Julia Sotirianakos, HUB van Reach For A Dream. “Iets so eenvoudig soos om pantoffels te dra word ’n kragtige simbool van hoop en die oortuiging dat elke kind verdien om te droom.”
Slipper Day-plakkers is tot 30 Mei beskikbaar by Wimpy, Dischem Apteke, Pick n Pay, Baby City, Toys R Us, Babies R Us, Krispy Kreme, Hush Puppies en The Crazy Store. Plakkers, tema-pantoffels en sokkies kan ook aanlyn gekoop word op reachforadream.org.za. Virtuele plakkers is beskikbaar op die Zapper-toep. Grootmaatbestellings sal met trots afgelewer word deur The Courier Guy.