GEMSBOK-SPRINGBOK: Die Rangers-netbalspan van Bergsig op Springbok het tydens die jaarlikse SuperSpar Netbal- toernooi wat op Clanwilliam gehou is, as toernooiwenner van die baan gestap.
Samantha Cloete, die kaptein het opgewonde gesê: “Dit het net weer eens bewys dat harde werk beloon word. Ons afrigter en elke speler het hulle uiterste-alles ingesit tydens die voorbereiding vir elke wedstryd.
“Ek is verseker n trotse kaptein en met hierdie meisies gaan ek definitief na enige oorlog toe, want, ons het mekaar.”
Rangers het die B-pool gewen en met spanne soos Brakenfell (29-7) en Oakdale (23-4) tydens dag twee, afgereken. Op dag een, Vrydag, het hulle alreeds gewys wat in hulle steek en altwee wedstryde gewen.
Dus het die span al hulle vyf wedstryde gewen en in die proses 112 doele aangeteken. Hulle opponente kon net 36 doele teen die Namakwaland se span aanteken.
Groot was die vreugde toe hulle Saterdagnamiddag as toernooiwenners van die netbalbaan gestap het. Janine Jacobs (née Nieuwoudt) van Springbok was in ekstase, hoewel moeg en lyfseer.
Sy is die afrigter van aldrie spanne (twee vroue- en een mansspan) wat Rangers op die baan kan plaas. Behalwe dit is sy ook n kranige speler van die A-span. Sy het opgewonde vertel:
“Ek is ongelooflik trots op Rangers se dames. Dit is ook ‘n voorreg om saam met so ‘n groep meisies te werk, wat my soort passie vir netbal deel.
“Onthou, die span het eers weer in 2024 begin bestaan. Ons het verlede jaar toe ook na Clanwilliam gereis, vol selfvertroue om die C-pool te wou wen. En ons hét dit vermag.”
Volgens Jacobs is Rangers se motto, “ons het mekaar,” en was dit sover oor en oor bewys. Sy gaan voort: “Dit was rêrig n ‘Rangersjaar’, want ons het ons plaaslike liga gewen én die afgelope naweek die C-pool.” Laastens lê die Fast Five netbaltoernooi nog voor en ons hoop om ook hierdie trofee huis toe te bring.”
Volgende jaar sal Rangers in die A-pool op Clanwilliam gaan deelneem en hulle hoop om baie goed te vaar.
Intussen gaan die Noord-Kaapse provinsiale netbaltoernooi op 15 en 16 Augustus op Springbok plaasvind. Eureka Mentoor van Rangers, is aangewys as die beste verdediger in Clanwilliam.