Die krieketspan van Upington Lions onder aanvoering van SJ Becker het Saterdag die 40-boulbeurt eindstryd teen Duineveld met 39 lopies gewen en sodoende ‘n driekuns aan oorwinnings in dié formaat behaal.
Duineveld het die loot gewen en verkies om eerste te boul wat hulle uit die staanspoor ook goed gedoen het.
Veral die gesoute Noel “Kuifie” Jansen (1/17 in 8 bbe), die linkerhandse snelbouler Joshua Visagie (2/27) en “Kuifie” se 18-jarige seun Gregan het Lions se kolwers goed vasgepen.
Dit was egter net Gert Rupping (29, 38b) en die openingskolwer Anthony Grobler (26, 66b) wat uitgestaan het onder die Lions- kolwers.
Teen die einde van hul toegelate 40 boulbeurte (153/8 teen 3.8 lopies per boulbeurt) het die lopies redelik gevloei.
Duineveld se beurt het wankelrig begin met die vroeë vertrek van sy staatmakerkolwer AJ Burger (9) en Cobus van Niekerk en H. Stach wat albei vir nulletjies moes terugstap.
Gregan Jansen (21, 31b) en “Kuifie” Jansen (26, 22b) het baie goed gekolf en hulle het Lions ‘n bietjie bekommerd gehad met hul aanvallende aanslag.
Chris Voges (4/27) en Jaco Beukes (3/25) het Duineveld met knaende, goeie lyn en lengtes op hul agtervoete gehad.
Met nog ‘n volle 10 boulbeurte oor en een paaltjie staande kon Duineveld nie die mas opkom nie en was die skrif alreeds teen die muur.
Lions wen met 39 lopies en sluit dus hul seisoen af met ‘n driekuns aan oorwinnings in ZFM se 40-boulbeurte-liga.