Die 2024/25 krieketseisoen is in volle swang en die Hoërskool Kalahari se Eagles het reeds ‘n seisoen met vele hoogtepunte.
Kalahari krieketspanne was in die begin van September in Bloemfontein en het kragte gemeet teen Hoërskool Jim Fouche en St Andrews School.
‘n Week later het Grey College se 0/15C en 4de span Kameelboompark besoek vir ‘n naweek propvol opwindende krieket.
Die Eagles het ook heel paar Premierliga T20 wedstryde gespeel ter voorbereiding vir die Diamantveld T20 toernooi.
Intussen word die 0/19 JTG/SA20 T20 wedstryde gespeel en hier het die Eagles reeds 8 ligapunte ( volpunte ) na 4 wedstryde.
Maar die hoogtepunt vir die eerste deel van die seisoen was beslis die Eagles se deelname aan die Diamantveld T20-toernooi.
Wat ‘n ervaring vir die Kala-krieketseuns wat teen Grey College op die Diamond Oval speel, regstreeks op DSTV 216.
Grey het ‘n goed gespeelde 195/6 in 20 boulbeurte behaal en Kalahari het geantwoord met 122/8.
Kalahari het ook op die tweede dag van die toernooi teen Oakdale gespeel en met 8 paaltjies verloor.
Dag 3, Saterdag 5 Oktober, was ‘n goeie een vir die Kalahari-seuns wat oorwinnings teen HTS Drostdy en die Noord-Kaap Hub behaal het.
SW van Heerden en Malan Lubbe het welverdiende vyftigtalle aangeteken.
Die 4de dag van die toernooi het die Arende teen ‘n baie sterk Hoërskool Outeniqua-span gespeel om die 13de en 14de plek van die 18 spanranglys te bepaal.
Kalahari het die wedstryd met 69 lopies verloor en 14de geëindig in die 2024-weergawe van die Diamantveld T20-toernooi.
Dit het die Kalahari-span bo Hoërskool Stellenberg, HTS Drostdy, CBC Invitational en die NCC Hub-span geplaas.
Dit was waardevolle ondervinding vir ‘n relatiewe jong Kalahari 1ste span. Hierdie span het defnitief Hoërskool Kalahari se naam hoog gehou.
Vrydag, 11 Oktober vertrek beide die 0/19 en 0/15 spanne na Bloemfontein vir wedstryde teen Grey 0/17A en 0/15B. Hierdie beloof om klipharde krieket op te lewer.
Tydens die Hoërskool Kalahari Sportprysuitdeling is daar Prestige Toekenings oorhandig aan Yden Agenbag en Malan Lubbe vir hul bydra tot Kalahari krieket gedurende hul skool loopbaan 2020 - 2024.
Yden Agenbag word vereer as bouler. Hy neem 195 paaltjies vir Kalahari in alle skool wedstryde waarin hy betrokke was.
Malan Lubbe word vereer as veelsydige speler. Malan teken 3 000 lopies aan en neem 140 paaltjies in skole wedstryde vir Hoërskool Kalahari.
Hierdie twee seuns het diep spore getrap op Kameelboompark. Baie dankie vir julle bydra om Kalahari krieket op te bou.