Krieket in die winterseisoen? Ja, ons lesers het hier reg gelees. Die Fire Lions van Calvinia was Saterdag behoorlik aan die brand teen Orange Diamonds van Upington.
Die begeesterde besoekers was op die dag se spel die beter span wat kolf-en veldwerk betref.
Vangskote vanuit die boonste rakke was deur hulle benut en die span se boulers met Elrico Ryck aan die voorpunt was eens té veel vir die tuisspan.
Fire Lions het eerste gekolf en het 63/8 in sy toegelate 10 boulbeurte aangeteken waarvan Jeremy Steenkamp ‘n skaflike 18 lopies gemoker het.
Vir Orange Diamonds het Juandré van Kratenburg met 4 paaltjies vir slegs een lopie uitgeblink.
Orange Diamonds se kolwers was té oorgretig in hul jaagtog en het feitlik hul paaltjies een vir een op ‘n skinkbord vir sy teenstanders gegee.
En só kon die span ná sy vroeë terugslag nooit herstel nie en het sodoende die wedstryd met 23 lopies verloor.
“Ons het nie behoorlik gekonsolideer nie en ons het ons paaltjies eenvoudig weggesmyt”, het ‘n teleurgestelde Janco Lourens, afrigter van die tuisspan gesê.
* Berig: Nick Pretorius