GEMSBOK-UPINGTON: Op Dinsdag, 22 Oktober, het Hoërskool Duineveld weereens bewys hoekom hulle bekend staan vir hul puik sportorganisasie toe die 2de Tweekamp Liga met groot sukses by die skool aangebied is.
Die dag is gekenmerk deur uitstekende samewerking, sportmangees en ‘n ware gemeenskapsgevoel.
Die byeenkoms is voortreflik georganiseer deur Duineveld se toegewyde span, met waardevolle hulp van ouers en onderwysers wat as beamptes ingespring het om die dag glad te laat verloop. Hierdie ondersteuning maak dit moontlik dat die tweekamp-ligas van krag tot krag groei en elke keer ‘n groter bywoning trek.
Wat die tweekamp-ligas besonders maak, is die deelname van gesinne wat saam sport geniet. Hierdie keer het die Niemand-gesin (vier deelnemers), die Laubscher-gesin (vier deelnemers), en Tannie Bossie Breedt saam met haar twee kleinkinders almal deelgeneem — ‘n mooi voorbeeld van hoe sport jong en oud bymekaar bring.Die top drie deelnemers van die dag, gebaseer op hul gekombineerde hardloop- en swemtye, was:
1.    Adalein Maritz
2.    Geo March (Fanie Malan)
3.    Llewellyn Orffer (Laerskool Oranje-Noord)
Die sport groei merkbaar met elke liga, en nuwe deelnemers van verskillende ouderdomsgroepe sluit gereeld aan. 
Dit is duidelik dat die tweekamp ‘n gunsteling op die plaaslike sportkalender begin word.
Die volgende liga vind plaas op 5 November by Laerskool Oranje-Noord, en groot opgewondenheid heers reeds onder deelnemers en ondersteuners.
																					








