Klerksdorp Midweek, Klerksdorp - Hoërskool Klerksdorp se rugbyveld was lanklaas so volgepak soos op Saterdag 10 Mei, met die aanvang van die Noordvaal-liga. Dit was die eerste amptelike ligawedstryde en KHS en Hoërskool Wesvalia, wat beide in die plaatafdeling deelneem, was lus vir kookwater-rugby. Die skole is gedugte teenstanders vir mekaar en toeskouers het opgeruk om die rugby te ondersteun. KHS was die gasheer.
Hoërskool Wesvalia het die hoofwedstryd tussen die eerstespanne beklink in ‘n naelbyter van ‘n wedstryd met ‘n telling van 27-22. Die Wessies se ander rugbyspanne het ook nie teleurgestel nie, en ses van nege ligawedstryde gewen.
Netbal is verlede week al gespeel en hier het KHS se eerstespan koning gekraai deur Wesvalia met 34 doele teen 18 te wen.
Wesvalia se eerste seunshokkiespan het KHS met 2-0 geklop en die meisies van KHS eerstespan het Wesvalia met 1-0 geklop.