GEMSBOK-UPINGTON: Amalawus FC, een van Upington se trotse sokkerinstellings, het op 23 September 2025 nog ’n mylpaal bereik toe hulle bejaardes van die gemeenskap in die kollig geplaas het met ’n spesiale program.
Hierdie inisiatief beklemtoon dat die klub se invloed veel verder strek as net die sokkerveld.
Die klub, wat in 1979 gestig is, het oor die jare gegroei tot ’n pilaar van die plaaslike gemeenskap. Benewens hul sokkerontwikkeling in die Noord-Kaap, fokus Amalawus deesdae toenemend op gemeenskapsprojekte wat mense van alle ouderdomme raak.
Die groep het bejaardes bederf met koeldrank, kerrie-vetkoek en vars vrugte, moontlik gemaak deur die ondersteuning van Food Lovers, KJ Oranje PTYD en Sekokodi Engineering. Verder het suster Andreas van die Dr. Harry Surtie-hospitaal gratis bloeddruktoetse aangebied, wat ’n gesonde dimensie aan die dag se byeenkoms toegevoeg het.
Aangesien die sokkerklub deel van die gemeenskap is, het die burgemeester van die Dawid Kruiper Munisipaliteit, raadslid David Kazi, die span aangemoedig om saam te werk om meer soortgelyke programme in die gemeenskap te laat plaasvind
“Ons glo dat sokker nie net oor wen gaan nie, maar oor die opbou van gemeenskappe,” sê die bestuur. “Deur hierdie projekte kry ons die geleentheid om mense se lewens regtig aan te raak.”
Hoewel Amalawus deurentyd borgskappe en fondsinsamelings benut, bestaan daar steeds ’n dringende behoefte aan ondersteuning om sulke gemeenskapsprojekte volhoubaar te maak. Daarom daag die klub ander maatskappye en organisasies uit om as vennote deel te word van Amalawus se visie om deur sosiale werk ’n tasbare verskil in die gemeenskap te maak.
Met hul toewyding op én van die veld, vestig Amalawus FC homself as ’n span wat nie net wen in kompetisies nie, maar ook in die harte van sy mense.