GEMSBOK-UPINGTON: Lekker vermaak is gereël vir vanjaar se Expo wat vanaf 29 - 31 Mei gehou word.
Michael Lindt, wat bekend is as omroeper by die skou, gaan as seremoniemeester en aankondiger optree. Hy sal ook die gaskunstenaar by die Bejaarde Funksie wees, wat soos gewoonlik, die Donderdagoggend aangebied word.
Donderdag om 14:00 is daar ‘n skole produksie op die hoof verhoog.
Donderdagaand om 19:00 word Upington se Skoukoningin gekroon.
Vrydagaand se sangprogram begin om 19:00 met Armand Steenkamp, Ryno Velvet gevolg deur Loufi Vrydagaand wat die aand afsluit.
Armand Steenkamp spits hom toe op oorspronklikke afrikaanse musiek, met rolmodelle soos Worsie Visser en Zak van Niekerk sy ou buurman kan hy mos nie verkeerd gaan nie. Armand tree gereeld by feeste en skoue op en met liedjies soos, Lekker ou Struis; Johanna van Saldana; Blou Diamant, Oom Boetie sê dis ‘n Meermin en nog meer, sal sy optrede vol lewe wees.
Jean-Luc Handel, professioneel bekend as Loufi, is ‘n Port-Elizabeth-gebore kunstenaar wat opslae maak in die Suid-Afrikaanse musiektoneel. Loufi is ‘n passievolle, hardwerkende en selfgedrewe individu wat met alle soorte klanke eksperimenteer, want, in sy woorde, “musiek breek hindernisse”.
Met ‘n eiesoortige klank wat beide nuut en oorspronklik is, het Loufi se musiek ‘n spesiale kwaliteit wat dit onderskei van die musiek van sy tydgenote. Loufi se kennis en vermoë van musiek om mense te verenig, op te hef en te inspireer, kom natuurlik vir hom as musikant.
Sy bekende liedjies is Liewe Genade, Boude, Wit skoene en Doef Doef.
Saterdag is daar ‘n vol program die oggend met allerhande landbou programme. Die twee sangers wat optree, is die bekende Pieter Koen wat nou weer terug is in Suid-Afrika en Irene-Louise van Wyk.
Irene-Louise bied Saterdagmiddag om 15:00 ‘n motiveringspraatjie, met die tema, “Die ware ek”. aan. Dit is ‘n diep persoonlike weergawe van haar lewe, stryd en triomf. Sy praat openlik oor haar gevegte met depressie en oor die tragiese verlies van haar ma.
Ten spyte van “online bullying”, “body shaming” en persoonlike swaarkry, beklemtoon sy selfaanvaarding, veerkragtigheid en ook die belangrikheid van geestelike gesondheid. Haar boodskap is een van hoop, wat ander aanmoedig om hul ware self te omhels en nie deur hul stryd gedefinieer te word nie.
Hierdie praatjie is definitief ‘n moet vir enige vrou.
Kaartjies nou beskikbaar by Boere.Troos Upington. Slegs R100 per kaartjie.
Pieter Koen sing om 19:00 en skougangers sal na al sy bekende gunsteling liedjies kan luister.
Na Pieter Koen is daar ‘n motorparade voordat Irene-Louise die Saterdagaand-program sal afsluit met haar vertoning op die hoofverhoog.
Irene-Louise Van Wyk is ‘n sangeres met verskeie no.1-treffers, ‘n mamma, en besigheidseienaar wat haar hele lewe al in Pretoria -Oos woon. Sy het ook al saam met van die land se grootste kunstenaars opgetree, getoer en gewerk.
Irene spog met ‘n paar treffers soos Tekkies Brand; My Volgende Fout saam Jay; Hou Jou Hande Van My Lyf af; Sjampanje; Vergeet Van My; Reguit dans en nog baie meer.