Fields marked with an asterisk (*) are required.
Name *
Username *
Password *
Verify password *
Email *
Verify email *

Community News
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

GEMSBOK-UPINGTON: Die Gemsbok het vanoggend besoek by die Dr Harry Surtie Hospitaal afgelê, nadat ons verskeie klagtes ontvang het dat die gebrek aan lugversorging in die hospitaal ‘n ernstige impak op gesondheidsorg het.
Hoewel lugversorging in jou dag tot dag bestaan as ‘n luuksheid gesien word, kan geen hospitaal funksioneer daarsonder nie.
Buiten vir die impak op beide die gemoedere van die pasiënte en personeel, is daar ernstige gesondheidsrisikos wat erge hitte - soos dit wat in die Benede Oranje gebied ervaar word, meebring.
In Februarie verlede jaar is daar wingerdwerkers aan hitte uitputting dood - vanjaar mag die hitte-doodstyding homself dalk net binne die mure van die streekshospitaal op Upington, herhaal. 


Pasiënte in Dr Harry Surtie Hospitaal het die afgelope tyd binne die hospitaal simptome van hitte-uitputting begin toon. 
Sommige so erg dat hulle met yspakke afgekoel moes word, nadat hulle begin stuipe kry het.
‘n Paar sterftes van beide babas en volwassenes, kan moontlik ook toegeskryf word aan hierdie omstandighede. Temperature waar medikasie gestoor word speel ‘n veel groter rol wat die meeste van ons besef.
Bergingstoestande vir die meeste medisyne kan bevredig word deur óf koue berging (tussen 2-8°C) OF berging wat nie bo 25°C is nie (hoewel sommige medisyne nou berging nie bo 30°C voorstel nie). 
Oor die algemeen moet die meeste medisyne by 18 grade in ‘n koel, droë plek, weg van sonlig, gestoor word. 
Daardie temperatuurreeks is belangrik. 
Beide oormatige hitte en koue kan ‘n beduidende impak hê op hoe goed medikasie - beide voorskrif en oor-die-toonbank - hul werk doen.
 Medikasie kan deur uiterste hitte en selfs vog verander word, wat veroorsaak dat hulle minder kragtig word voor hul vervaldatums.
Temperature binne die hospitaal beloop beslis bo 30 grade celsius.
Die Gemsbok het met verskeie pasiënte en personeel gesels. Om die viktimisering van diegene wat die Gemsbok te woord gestaan het - te verhoed, sal ons geen name noem of fotos plaas nie.
Wat ons wel vasgestel het - is dat sedert ‘n soortgelyke besoek in November 2023 aan die hospitaal, waar die huidige hospitaal bestuurder die Gemsbok beloof het dat ‘n tegniese span binnekort die lugversorgingstelsel sal kom regmaak, het die stelsel slegs twee weke gewerk voor ten minste 90% van die hospitaal terug gedompel is in uiterste hitte omstandighede  - as gevolg van gebrek aan verkoeling.
Die hitte in DHS se neonatale intensiewesorg-eenheid is uitmergelend.  Hier word nie net siek babas behandel nie, maar meestal vroeggebore babas wat selfs so min as ‘n blokkie botter weeg.
Hierdie babas en hulle ouers woon saam in ‘n afdeling van die hospitaal, totdat die kleingoed genoeg gewig opgetel het om huistoe te kan gaan.
Volgens ingeligtes kry die babas so warm, dat hulle nie kan wakker word om te voed nie. 
Nie net belemmer dit hulle groei nie, maar plaas geweldige ekstra spanning op die reeds oorgespanne mammas en personeel.
Die kanker-, chirurgie-, psigiatriese pasiënte en pasiënte met ernstige asemhalings toestande soos TB, Covid en so meer se siektestoestande en algehele geestes-gesondheid - word erg deur hierdie hitte omstandighede aangetas.
Hospitale is ruimtes wat baie mense in beddens het wat vir ure of dae op ‘n slag lê. Boonop word daar baie beweeg en rondgehardloop op verskillende verdiepings, veral in die noodkamer.
As sodanig is daar pasiënte wat toestande moet hê wat gunstig is vir genesing en rus. As die temperatuur te koud of te warm is, kan dit hulle ontstel, wat bykomende stres tot gevolg het, wat nie goed is wanneer jou liggaam rus nodig het nie.
Mediese personeel is ook vir lang tye op hul voete en moet van een spasie na die volgende jaag, iets wat baie uit jou kan vat en jou laat sweet as die lugtemperatuur nie op ‘n gereguleerde vlak is nie.
In operasies, wat baie ure kan duur, kan chirurge en personeel te bedompig en ingeperk voel, met baie min ventilasie, kan foute gebeur.
Dis glo waarom selektiewe chirurgie tans by die hospitaal gestaak is. Nood operasies kan slegs gedoen word as die pasiënte vol antibiotika gepomp is.
 Verpleegsters, wat heeltyd op die vloer is, moet ‘n positiewe gemoed en ‘n hoë vlak van konsentrasie hou, aangesien daar inkomende en uitgaande pasiënte is wat te alle tye van die dag beweeg. Hulle moet die dokter kan vertel wat die situasie is, en wat die toestand of besering kan wees.
Dit is baie moeilik as hulle op die randjie van hitte uitputting is....
Asemhalingsprobleme is ‘n groot probleem - wanneer dit kom by mense wat probeer herstel van probleme wat verband hou met die longe. 
As die lug nie van goeie gehalte is nie, of dit nou nie skoon genoeg is nie, of dat dit nie behoorlik geventileer word nie, sal genesing baie langer neem om plaas te vind.
Asma-aanvalle kan ernstig wees, maar is meer dikwels as nie, ‘n stresvolle ervaring - wat ‘n pasiënt se ontwikkeling werklik kan beïnvloed.
Tydens die Gemsbok se besoek aan Dr Harry Surtie, was dit ondraaglik warm en bedompig in die sale, intensiewesorg eenhede en openbare areas van die verskillende afdelings. 
Blykbaar werk die lugversorging in die bestuurspersoneel se kantore.
Die uitvoerende bestuurder van die DHS het sekuriteit gestuur om die Gemsbok van die perseel te verwyder. Blykbaar kon hy nie uit sy verkoelde kantoor kom om self met die media te praat nie.
Dit nadat ons met ‘n vorige vergunningsbesoek aan sy kantoor in November, aan hom meegedeel het dat ons die situasie sal monitor en indien die lugversorgingsprobleem nie opgelos word nie, ons dit aan die groot klok sou hang.
# Navraag oor die situasie is reeds gister aan die provinsiale woordvoerder van die Deapartement van Gesondheid gestuur, maar is tot op hede nie beantwoord nie.