Fields marked with an asterisk (*) are required.
Name *
Username *
Password *
Verify password *
Email *
Verify email *

Community News
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

GEMSBOK-KENHARDT: Droë-keel en moedelose inwoners van Kenhardt het verlede week, om ‘n memorandum te oorhandig,  voor die Kai !Garib Municipality se kantore vergader. 
Nadat die gemeenskap nou al vir weke sonder water is, eis die warm onder die kraag gemeenskap dringende oplos-sings en dienslewering van die munisipaliteit.
 Die gemeenskap het in hul griefskrif aangedring dat hulle versoeke  in ‘n baie ernstige lig gesien moet word. Verder verwag hulle dat die munisipale bestuur binne twee weke ‘n vergadering sal reël met al die direkteure, die burgermeester en munisipale bestuurder - op ‘n tyd en plek waar ons ook die gemeenskap se insette kan aanhoor.

 
“Dorp is vir weke sonder water, met net sporadiese beskikbaarheid.  Die dorp skree letterlik oor water en dit is kompleet of daar ‘n doodse stilte is. Die burgemeester, die direkteur van water, die personeel op grondvlak wat kleppe moet oop en toemaak en damvlakke nagaan – almal is doodstil,” so het Brendon Willemse van die Kenhardt Belangegroep die situasie beskryf.
Die belangegroep meen dat “Boorgat 8”, wat ‘‘n groot rol in die voorsiening van water vir die gemeenskap speel, al jare op die agendas van verskeie vergaderings is. 
“Die pomp het verdwyn, tesame met die elektriese kabel. Geen haan kraai daarna en  Kenhardt is veronderstel om gedeeltelik uit boorgat 8 water te trek, tesame met die pypleiding wat vanaf Lennertsville, vir behoeftes van die dorp en sy  inwoners voorsien.”
 Die gemeenskap wil weet waar is die pomp en die kabel. Hulle dring daarop aan dat die amptenare wat hierdie dienslewering moet bied en oorsien, verantwoordelik gehou word vir die huidige situasie en gebrek aan water.
Intussen eis die gemeenskap  dat ‘n amptelike ondersoek geloods word om die verantwoordelike persoon/persone (vir die verdwyning van die toerusting) aan te spreek en stappe teen hulle te neem.
  Riool word ook volgens die griefskrif onverantwoordelik en sonder die nodige onderhoud bestuur. 
Die rioolpompe was buitewerking, tot iemand gedreig het om dit in die media bekend te maak - toe spring hulle gou om iets aan die saak te doen.  Die riool probleem is steeds nie ten volle opgelos nie. Kinders speel in die riool water wat plasse en poele maak. 
Ander kwelpunte wat in die skrywe uitgelig is, is vullisverwydering, padinstandhouding, die aanbring van spoedwalle, instandhouding van die elektriese netwerk, en deurlopende kommunikasie met die publiek - met betrekking tot dienslewering.
Intussen het die Gemsbok vasgestel dat beide die vullis- en rioollorries wat die gemeenskap moet bedien verlede week in dieselfde padblokkade afgetrek en geskraap is tot dit weer padwaardig bevind word.
Mary-Ann Pienaar het aan die Gemsbok beloof dat die vullis en rioolverwydering nou vanuit Keimoes gedoen sal word.
Inwoners van Keimoes beweer wel, dat die dienste in hulle gemeenskap ook maar swak en sporadies gelewer word en dat - indien hulle nog die trokke moet deel, hulle nie dink enige dienste gelewer sal word nie.
 Afriforum het vroeër die week ‘n skrywe aan die munisipale bestuurder gestuur, wat hom waarsku dat - sou die waterprobleme in die munisipale regsgebied (Kenhardt, Keimoes en Kakamas) nie dringend en daadwerklik aangespreek word nie, Afriforum nie sal skroom om regstappe te neem nie.
“Sonder water is daar nie lewe nie, so kan dit nie aangaan nie,” sê Werner Strauss, Noord-Kaapse koördineerder vir die burgerregte organisasie.“Om ‘n gemeenskap sonder water te laat, veral in die middel van ‘n Noord-Kaapse somer, is niks anders as ‘n barbaarse skending van menseregte nie. Eintlik is dit roekelose nalatigheid, wat as ‘n vorm van poging tot moord geklassifiseer moet word,”