GEMSBOK-UPINGTON: In die hart van die stryd teen geslagsgebaseerde geweld (GBV), het die CRC Kerk, wat hierdie jaar sy dertigste bestaansjaar vier, 'n nasionale projek geloods, Beauty 4 Ashes, wat daarop gemik is om 30 slagoffer-vriendelike (trauma) kamers by verskeie Polisiestasies landwyd in te rig.
Hierdie kamers is ontwerp om 'n veilige en ondersteunende omgewing te bied waar slagoffers van geslagsgebaseerde geweld (bv verkrag-ting, aanranding) hul verklaring kan aflê, en die nodige hulp kan ontvang.
Die slagoffer-vriendelike kamers sal deur CRC Kerk se Beauty 4 Ashes Projek toegerus word met die nodige fasiliteite om 'n warm, verwelkomende, skoon en veilige atmosfeer te skep.
Dit is van kritieke belang vir slagoffers van geslagsgebaseerde geweld om te weet dat daar plekke is waar hulle met respek en waardigheid behandel sal word, en waar hulle kan begin met die ge-nesingsproses.
CRC Kerk sal ook “Care Crates” verskaf wat die toiletware en ander produkte bevat wat ‘n slagoffer sal benodig na afloop van hul verklaring aflegging en mediese ondersoek.
Die Beauty 4 Ashes inisiatief is 'n reaksie op die toenemende statistieke rondom geslagsgebaseerde geweld in die Noord-Kaap en oor Suid-Afrika heen.
Volgens die jongste verslae, ervaar 'n ontstellende aantal individue, veral vroue en kinders, daagliks geweld wat geslagsverwant is. In die Noord-Kaap alleen is daar 'n merkbare toename in die gevalle van huishoudelike geweld, verkragting en mishandeling, wat die behoefte vir hierdie soort projekte beklemtoon.
Op Vrydag, 24 Mei, het die gemeente van CRC Upington ‘n spesiale aand gewy aan die opvoe-ding oor geslagsgebaseerde geweld. Die aand is gelei deur pastoor Maré Venter, wat die gemeenskap ingelig het oor die verskillende vorme van GBV en hoe om dit te herken en te hanteer.
Daar was ook ‘n kort selfverdedigings demonstrasie om te wys hoe vroue hulself teen ‘n fisiese aanval kan beskerm.
Hierdie opvoedkundige sessies vorm 'n kernkomponent van die Kerk se benadering om nie net bewustheid te verhoog nie, maar ook praktiese oplos-sings en ondersteuning te bied.
CRC Upington nooi die gemeenskap uit om betrokke te raak by hierdie lofwaardige projek. Enigiemand wat 'n bydrae wil lewer, hetsy deur vrywilligerwerk of deur donasies, word aangemoedig om kontak te maak met die Kerk. Finansiële bydraes kan gemaak word in die volgende bankrekening:
CRC CARES UPINGTON,
NPC Registrasienommer 2023/988217/08.
Die bankbesonderhede is as volg:
Standard Bank, lopende rekening nommer 10210401239,
takkode 051001, verwysing: B4A.
Deur hierdie inisiatiewe, streef die CRC Kerk daarna om 'n verskil te maak in die lewens van diegene wat deur geslagsgebaseerde geweld geraak is en om 'n toekoms te bou waar alle lede van die gemeenskap veilig en vry van geweld kan lewe.