GEMSBOK-UPINGTON: Vir die volgende twee maande kan alle kunsliefhebbers gaan kyk na Carina Schneider en vriende se kunsuitstalling by die Kanoniki Padstal op Kanoneiland.
Die kunstenaars, wie almal skilderye uitstal, het verlede week ‘n baie geslaagde openingsaand by Kanoniki gehou. Joa Bekker, Thea en hul span, het almal ontvang en heerlike eetgoed en wyn bedien.
Pragtige agtergrond musiek is gemaak deur die Musiek Trio, Jan, Narika en Kristien. Hul musiek het die aand spesiaal gemaak.
Carina het almal verwelkom en die kunstenaars, Hanlie van Staden, Jan Taute, Esté Strauss, Doritha van der Merwe, Carina Nel en Joanita Heydenrich. Carina het genoem dat elke kunstenaar hul eie styl het en die gaste gevra om daarna op te let.”Kyk gerus fyn wanneer julle deur die gallery stap.” Sy het genoem dat kuns met ‘n mens praat, sonder woorde.
Sy het verduidelik dat verskillende tegnieke gebruik is, byvoorbeel kwas (groot of klein) en paletmes. Ook tegnieke soos “gladwrap in nat verf, sout, spatwerk, drukwerk en plakwerk.
“Dis soos ‘n spieël. Dit weerkaats jouself, jou omgewing en bring die wêreld na die persoon wat daarna kyk. Dankie aan elke kunstenaar wat saam met my uitstal.”
Nadat Carina almal welkom geheet het, het Jan Taute die volgende aanhalings voorgelees:
“Kuns was eens ‘n manier om die waarheid te soek. Nou is dit ‘n manier om die waarheid te skep.” (Pablo Picasso)
“Wat sou die lewe wees as ons nie die moed het om iets te probeer nie?” (Van Gogh)
“Kreatiwiteit neem moed” (Henri Matisse)
“Kuns is nie wat jy sien nie, maar wat jy ander laat sien. (Edgar Degas)
“As ek skilder, voel ek soos ‘n voël wat sing.” (Marc Chagall)
“Elke kunswerk is nie net die viering van kreatiwiteit nie, maar ‘n uitnodiging om die wêreld deur ‘n ander se oë te sien.” (Anon)
Die gaste het ook kans gekry om die kuns-tenaars uit te vra oor hul skilderye en wat die storie is wat die skilderye vertel.
Carina nooi Upingtonners en almal naby Ka-noneiland uit om na Kanoniki te ry en te gaan kyk na die skilderye wat te koop aangebied word. Dis regtig iets besonders en ‘n groot verskeidenheid.