Vanjaar op 29 – 31 Mei hou ons weer lekker Skou. Die Upington Landbou Expo is sinoniem met lekker kuier, lekker eet en natuurlik ‘memories’ maak. Ek het soveel stories uit my verlede wat begin met “onthou jy daai keer by die skou”.
Graag wil ek jou uitnooi na die Upington Landbou Expo van 2025, ons as komitee het baie hard gewerk om soveel “lekker” as moontlik in plek te sit sodat jy nuwe ‘memories’ kan maak.
‘n Splinternuwe Plaaswerf gaan die jong klomp lank besig hou, daar is ‘n nuwe kuier area op die hoof arena, die pretpark bring alles wat hulle het, en dan ook gaan die Arabierperde ons vermaak vir 3 dae lank.
Daar is weer die immergewilde Western Mounted Games vertoning saam met die motorfiets vs perd resies. Ons het heelwat nuwe stalletjies hierdie jaar, en dan ook ‘n nuwe uitgebreide “food court”.
Die landbou stalletjies is groter en meer en dan het ons ook die kuiertent van OWK Proelokaal. Jy kan steeds die baie gewilde steak kom eet by Die Vryburgers en die Lions gaan ook help om die kele koel en klam te hou.
Die SA Raisins praatjie is die grootste nog en met Irene-Louise van Wyk wat kom vertel en inspireer oor haar lewens uitdagings, gaan die Karakoel Saal met vele verskillende aktiwiteite besig bly.
Die kunstenaars op die verhoog is vir jonk en oud en is daar verseker iets vir almal se smaak. Loufi gaan ons leer dans in wit skoene terwyl Armand Steenkamp ons laat verlang na die weskus, Ryno Velvet gaan jou wys hoe speel hy ‘n kitaar verkeerdom en Pieter Koen gaan ons laat verlang na vorige “memories”, en dan gaan Irene Louis van Wyk ons Tekkies laat Brand.
Ek wil jou graag uitnooi en vra kom ondersteun asb die skou en kom geniet die vrugte van hierdie komitee se harde werk. Kom maak nuwe ‘memories’ en kom kuier lekker. Die Upington Landbou Expo is hier vir JOU! Moenie uitmis, sien JOU daar.
- Henco Burger, president:
Upington Landbou Expo