GEMSBOK-UPINGTON: Mev Anschen van Blerk is die nuwe leier van die Rooiduin ATKV-tak.
Anschen neem oor by Beatrix Venter, wie vanaf 2018 tot 2023 die voorsitter was.
Anschen is gebore en getoë op Upington. Haar liefde vir liefdadigheid en funksies reël het begin toe sy in 2000 by Kansa se Vonkelvrou betrokke geraak het.
Daarna het sy vanaf 2005 tot 2021 op Laerskool Oranje –Noord en Hoërskool Duineveld se OOV gedien. Tussen deur was sy ook betrokke by die destydse Jong Dames Dinamiek (JDD). Tans is sy ook die koördineerder van die Bloemfonteinse Therapea Kinderhuis in Upington, asook voorsitster van die Mosaiek Enkellopende Dames groepie.
Anschen se eerste projek as voorsitter, was 'n program wat die ATKV Rooiduin-tak by Oranjehof Tehuis vir bejaardes aangebied het.
Dit was in die vorm van ‘n kuier met koek en tee en ‘n verskeidenheidskonsert saam met Danielle Smit Sangskool, Karine Stolper Dansskool en Hoërskool Duineveld.
Anchen noem dat daar nog verskeie projekte die jaar aangebied gaan word.
ATKV 17 Augustus – ATKV kuier saam met Hannes van Wyk, van Kwela, by Hoërskool Duineveld
12 Oktober – ATKV kuier saam met Hekelwoorde (Tania Smit) by Hoërskool Upington
“Dan gaan ons aan met die Beertjies vir Ukraine-projek saam met Saret Boshoff. So as iemand daarby betrokke wil raak kan hulle gerus met my kontak by 082 430 9498,” het Anschen gesê.
Die Rooiduin ATKV-tak ondersteun ook projekte soos “Cupcakes 4 kids with cancer” saam met Mariza Viljoen, asook verskeie projekte wat deur ATKV by die skole aangebied word, soos Redenaars, Spel en Drama.
Indien enige iemand wil betrokke raak by die ATKV of hul projekte, kan hul gerus met haar kontak maak.