GEMSBOK-UPINGTON: Die Oranjehof Tehuis vir Bejaardes hou Saterdag vanaf 09:tot 14:00 ‘n groot straatmark.
Du Plessiesstraat, die straat by die hoofingang van die tehuis, word spesiaal vir die doel afgesper.
Die straatmark word in samewerking met Upington Boeremark gehou en ‘n groot verskeidenheid produkte sal te koop aangebied word.
Dit beloof om ‘n feestelike geleentheid te wees. Cazebo’s van alle kleure, sal in die straat opgeslaan word en tafels met produkte gaan onder die bome en op die grasperk van die tehuis uitgepak word.
Die matrone van die tehuis, Adri Calisi, sê die opgewondenheid is voelbaar in die gange en woonstelletjies by die tehuis. Daar word gehekel, brei en krale gemaak vir die handwerktafel.
‘n Verskeidenheid produkte soos rouvleis, braaivleis, roosterbrood, pannekoek, basaarpoeding, jafels, kerrie en rys en soetgebak sal te koop wees. Koffie en tee sal te koop wees.
Stalletjies met groente, rosyntjies en houtprodukte, asook Moringa, boerseep, juwele, ingelegte produkte, Doggie Paradise se “honde-klere” en nog vele meer, sal deel uitmaak van die straatmark.
Kom gerus en kom kuier saam. Daar sal tafels wees waar mense kan kom sit, lekker eet en gesels.
As daar nog mense is wat belangstel om produkte op die straatmark te verkoop, kontak Oranjehof by 054 332 2044 of Marlo by 079 945 4541.