Fields marked with an asterisk (*) are required.
Name *
Username *
Password *
Verify password *
Email *
Verify email *

Community News
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

GEMSBOK-UPINGTON: In ’n gemeenskap waar hoop soms skaars is en drome maklik verlep, het een vrou opgestaan – nie met rykdom of roem nie, maar met ’n foon, ’n kamera, en ’n stem wat al hoe harder begin praat het.
Sy is Gabby Grootdrink, ook bekend as die ikoniese Miss Loo, ’n vrou wie se lewensverhaal tussen Louisvaleweg, Rosedale en De Eiland gevleg is – en vandag weerklink haar woorde oor die hele Noord-Kaap én verder.
Sy het grootgeword in die skema, in ’n huis waar daar min was – maar waar haar gees en karakter gevorm is. Haar skooldae by SC Kearns Skool in Upington was die begin van ‘n lewenspad vol struikelblokke, maar ook groei.
Ná skool het sy by haar “antie”  in Upington kom bly. In 2012 het sy ’n huis vir haarself gekry – Leeukopstraat 13400, Rosedale – wat sy nie net haar huis noem nie, maar ook haar “plek van visioen”.


           Die kamera roep...
Miss Loo het ’n ongelooflike liefde vir fotografie en video’s ontwikkel. Eers het sy ander mense afgeneem, altyd agter die kamera – stil, beskeie. Maar toe gebeur daar iets een aand, toe sy saam met vriende by ’n “pub” uitgaan.
Iemand kyk haar in die oë en sê: “Jy hoort nie agter die kamera nie – jy hoort VOOR dit.”
Daardie iemand was haar vriend Ronaldo, wat onlangs ’n nuwe kar gekoop het. Hy het nie net die sleutels van sy motor in sy hand gehad nie, maar ook die sleutel tot haar toekoms.
Hy sê toe vir haar: “Ek maak ’n “deal” met jou, Miss Loo. As jy voor die kamera bly, belowe ek jy sal enige plek in hierdie land kan besoek – ek sal jou vat. Net as jy die “deal” nakom.”
En sy het. Sy het haar stem laat hoor.
En daardie stem het mense begin laat lag, huil, dink – en aanhou kyk.
“I LOVE MY LIFE!” – reguit en rou
Miss Loo se video’s is eg, reguit, sonder maskers. Sy praat met die wêreld op haar manier – “Jy in die Noorde! Jy in die Weste! Jy in die Suide! En definitief Jy in die Ooste!”
En as jy haar vra hoekom sy aanhou, sal sy jou antwoord:
“Nou toe nou! Kom ons gaan aan!”
Sy het nie net kykers nie – sy het aanhangers, mense wat haar wag elke keer as sy haar foon op rekord sit. Mense wat sê sy hou hulle op die been, gee vir hulle moed, laat hulle lag wanneer die lewe te swaar word.
                    ‘n Hart vir mense.
Maar agter die grappe, agter die humor en die kamera, is daar ’n diep, sagte hart. Daar was ’n jong meisie in die gemeenskap wat niemand regtig wou naby hê nie. Sy is behandel soos ’n niks. Maar nie deur Miss Loo nie.
Miss Loo het haar raakgesien, haar jammer gekry en vir haar slippers en klere gegee.  Sy het daardie meisie gewys: Jy’s ook mens. Jy’s ook waardevol. Die meisie het begin om vir Miss Loo te help – het self die foon opgeneem en begin afneem, net om Miss Loo besig te hou en weg te hou van moeilikheid. Dis wie Miss Loo is – sy trek mense nader, en verander hulle.
                  Die boom op De Eiland
Een van die mees simboliese oomblikke in Miss Loo se storie, is dié van die boom.
Sy en haar vriende het een middag op De Eiland gesit. Geen skadu, geen koelte – net son en stof. Hulle besluit toe om ’n boom te plant. ’n Eenvoudige daad.
Maar Miss Loo het haar hart daaraan vasgemaak.
Daardie boom is nou 13 jaar oud. Sy het nog nooit regtig geslaap nie – altyd bang iemand steel dit. Sy het hom natgegooi. Gevoed. Drie-uur in die oggend het sy opgestaan om seker te maak die boom is nog daar.
Want as sy omgee, doen sy dit met alles in haar.
Vandag – ‘n gemeenskapsikoon:
Gabby Loo, ons eie Miss Loo, is nie ‘n “influencer” met ‘n groot produksiespan nie. Sy is ‘n vrou met ‘n selfoon, ‘n reguit mond en ‘n groot hart. Sy wys ons almal dat jy nie ryk hoef te wees om ander ryk te maak nie. Sy het haar eie styl geskep. Haar eie slagspreuke. Haar eie identiteit. En sy herinner ons daagliks:
“I LOVE MY LIFE!” “Jy in die Noorde, jy in die Weste, jy in die Suide, en definitief jy in die Ooste!” “Nou toe nou! Kom ons gaan aan!”
En ons gaan aan – saam met haar. Gabby Loo is meer as net ’n naam. Sy is ’n stem vir dié sonder stem. ’n Kamera vir dié wat nie gesien word nie. En ’n vriendin vir almal wat voel hulle’s alleen.
So as jy haar video’s sien, stop en luister. Want wanneer Miss Loo praat, praat die hart van Upington saam.
** Berig geskryf deur: Gerchand Cloete