GEMSBOK-KURUMAN: “Beloftes van meer skole in die verafgeleë plattelandse dorpies van Ga-Segonyana teen 2025, lyk na nog ‘n lugkasteel-droom - gegewe die Noord-Kaapse regering se versuim om op sy sogenaamde prioriteitsgebiede op te tree.”
Dit is verlede week tydens ‘n toesighoudende inspeksie aan die konstruksieterrein van Laerskool Magojaneng bevestig, vergesel deur die plaaslike raadslid, Koketso Paul.
Volgens die Onderwysdepartement se Jaarlikse Prestasieplan vir 2023/2024 - is die totale projekkoste vir die bou van Laerskool Magojaneng R85,654 miljoen.
Die projek het verder ‘n begindatum van 15 Januarie 2023 met ‘n verwagte voltooiingsdatum geskeduleer vir 8 Julie 2024.
Konstruksie het egter vier maande gelede tot stilstand gekom.
Halfgeboude strukture - wat die regering reeds miljoene rande gekos het, word aan die genade van die elemente oorgelaat.
Dit is jammer, aangesien meer leerfasiliteite broodnodig is in die John Taole Gaetsewe-distrik, waar ‘n toestroming in leergetalle voorheen aangemeld is.
Staatsbefondsde leerdervervoer is ook nie beskikbaar vir leerders in Magojaneng - wat skole in omliggende dorpe moet bywoon nie.
Sukkelende ouers, wat nie kan tred hou met taxi-tariewe nie, is wanhopig oor hul kinders se opvoeding, aangesien dit al hoe duideliker word dat die skool nie binnekort in werking sal wees nie.
Luidens ’n onlangse aankondiging deur ’n plaaslike raadslid - het die projek tot stilstand gekom weens wanbetaling van die kontrakteur.
Soortgelyke scenario’s het na-bewering voorgekom by die konstruksieterreine van die skole in Bankhara en Promised Land.
Verdere vertragings kan ‘n verlenging van die boukontrak noodsaak of selfs die aanstelling van ‘n nuwe kontrakteur om die skole te voltooi. Dit kan ook die vervanging van sekere boumateriaal noodsaak, met steeds stygende bou-inflasie wat ook aanleiding sal gee tot bykomende koste.
Die ouditeur-generaal het vroeër bevind dat terwyl die program verantwoordelik vir infrastruktuurontwikkeling by die departement van onderwys - 102% van sy begroting bestee het, hulle net 20% van hul teikens voltooi het.
Boonop is slegs 28 uit ‘n geteikende 69 geskeduleerde instandhoudingsprojekte by skole voltooi, wat wys dat swak infrastruktuurbestuur kinders van die beste opvoedkundige omgewing regoor die provinsie ontneem.