GEMSBOK-GROBLERSHOOP: Die SA Munisipale Werkersunie in die Noord-Kaap het gevra dat !Kheis Plaaslike Munisipaliteit onder administrasie geplaas word - aangesien salarisse sedert Desember verlede jaar nie betaal is nie.
Lawrence Fennie, provinsiale sekretaris van Samwu, het gesê werknemers is in ‘n omsendbrief ingelig dat salarisse weer vir Februarie uitgestel sal word.
“Die munisipaliteit se versuim om sy kontraktuele verpligtinge na te kom het werknemers aan ondraaglike ekonomiese toestande en ontberings onderwerp. Werkers het laas hul salarisse in Desember 2023 ontvang,” het Fennie gesê.
“Die wanbetaling van salarisse het baie werkers in ‘n bedenklike situasie geplaas, waar teistering in die gesig gestaar word deur krediteure wat nakoming van kre-dietooreenkomste eis.
Werkers loop die risiko dat hul voertuie en huise deur krediteure teruggeneem word, wat hul finansiële nood vererger.”
Fennie het bygevoeg dat daar steeds van werkers verwag word om voort te gaan om dienste aan die inwo-ners van !Kheis te verskaf, “op ‘n leë maag”.
“Werkers word verplig om dienste te lewer - terwyl hul eie kinders honger skool bywoon en sommige word gedwing om lang wandelings te verduur weens onbetaalde vervoer.
“Die haglike situasie in !Kheis beklemtoon die gebrek aan doeltreffende interregeringsverhoudinge in die provinsie. Provinsiale regering, wat veronderstel is om toesig te hou oor munisipale funksione-ring, het oënskynlik stil gestaan terwyl werkers ekonomiese swaarkry, armoede, honger en hongersnood verduur. Die funksionaliteit en diensleweringskapasiteit van !Kheis word nou in die gedrang gebring aangesien honger werkers sukkel om noodsaaklike dienste te lewer.”
Fennie was bekommerd oor die hoë omsetkoers van munisipale bestuurders by die munisipaliteit, waar geen ooreenstemmende verbeterings in dienslewering sigbaar was nie.
“Ons doen ’n dringende beroep op die onmiddellike betaling van werkers se salarisse by !Kheis Plaaslike Munisipaliteit en ingryping deur provinsiale regering, om die munisipaliteit onder administrasie te plaas. Daar kan nie toegelaat word dat hierdie situasie langer voortduur nie.”
Tebogo Monyo, woordvoerder van die Noord-Kaapse departement van samewerkende regering, menslike nedersettings en tradisionele sake, het gesê hulle moet vasstel of enige formele verbintenisse tussen die provinsiale regering en Samwu plaasgevind het en het verdere navrae na die munisipaliteit verwys.