In gemeenskappe regoor die Noord-Kaap het groepe die afgelope weke opgeruk na buitelanders se Spaza-winkels - “om hulle eens en vir altyd uit ons gemeenskappe te dryf”.
Gemeenskapslede het gesê dat slegs plaaslike inwoners toegelaat moet word om as informele handelaars te werk in ondernemings soos salonne, spaza-winkels en groentestalletjies. Sommige gemeenskapslede het uitgespreek dat buitelanders slegs toegelaat moet word om besighede te bedryf as hulle ‘n minimum van R5 miljoen in die land belê.
Hulle het beklemtoon dat spaza-winkels aan verbruikers- en munisipale verordeninge sowel as gesondheids- en veiligheidsregulasies moet voldoen, om te verseker dat goedere van goedgekeurde verskaffers verkry word en dat persele sanitêr gehou en goed onderhou word.
“Die eenheid moet stofdig wees. Styf toemaakbare vullisdromme moet voorsien word. Nie-absorberende rakke moet voorsien word. Geen kos mag op die vloer wees nie. Algemene higiëne moet te alle tye toegepas word. Geen slaap word in die snoepie toegelaat nie,” het hulle gesê.
Verbruikers het aangedring op markverwante pryse en die reg om terug te keer en vergoed te word vir ongeskikte goedere.
Baie gemeenskappe, regoor die provinsie, het ook beweer dat owerhede besighede in buitelandse besit beskerm, met verwysing na gevalle waar kinders glo alkohol by spaza-winkels kon koop, terwyl plaaslike dwelmhandelaars ‘straf-loos’ bedryf het.
Die meeste gemeenskappe versoek om onmiddellike optrede oor kwessies van voedselveiligheid nadat kinders en inwoners na bewering gely het aan voedselvergiftiging wat veroorsaak is deur vervalste en verouderde goedere van spaza-winkels.
Gevalle van voedselvergiftiging kom op ‘n daaglikse basis landwyd voor, waar ons kinders siek word of selfs sterf van versnaperinge en kos wat by hierdie snoepies in buitelandse besit gekoop word.
Daar was glo twee voorvalle in Delportshoop, waar albei kinders siek geword het nadat hulle koekies geëet het wat by hierdie winkels gekoop is. Die kinders is hospitaal toe gehaas en is met voedselvergiftiging gediagnoseer.
Die gemeenskappe het ook beweer dat buitelanders die jeug uitbuit deur dwelms te verkoop en jong meisies te prostitueer.
Buiten vir ‘n toename in Facebookplasings regoor die land, is daar glo plaaslike gevalle ook, waar kinders “crisps” by hierdie spazawinkels gekoop het, wat vreemde pille en ander voor-werpe bevat. Daar is nog geen terugvoer met betrekking tot die polisie en omgewingsgesondheid se ondersoeke na hierdie beweringe nie.
Gebassseer op al die beweringe het verskeie gemeenskappe regoor die provinsie reeds in groepe van winkel tot winkel gegaan en besigheideienaars probeer intimideer.
In die laaste maande is daar reeds voorvalle waar buitelanders met geweld deur die gemeenskappe genader is.
In September 2023 is skoolonderrig by die Riet-fontein Gekombineerde Skool ontwrig - weens ‘n woordewisseling tussen graad 12-leerders. Uiteindelik het die ouers betrokke geraak, wat die skool gedestabiliseer het en tot die sluiting van die skool gelei het.
Een van die ouers was ‘n plaaslike spaza-winkel eienaar, wat deur die gemeenskap daarvan beskuldig is, dat hy die dorp boelie en bedreig.
Sover die Gemsbok kon vasstel het niks tot dusver van die saak gekom nie.
Die dood van ‘n Nigeriese man word ondersoek, nadat hy in Mei vanjaar te midde van ‘n polisie-klopjag dood is.
‘n Spaza-werknemer, Mohammed Ferazi, wat op 8 Oktober 2024 alleen in die winkel was, is noodlottig deur die verdagtes beseer voordat hulle na bewering die snoepie beroof en gevlug het.
Die polisie in Paballelo het ‘n moordsaak vir ondersoek aanhangig gemaak, na aanleiding van ‘n skietvoorval waartydens ‘n 34-jarige winkel-eienaar die aand van Dinsdag, 22 Oktober 2024 noodlottig gewond is.
‘n Toename in insidente, dui daar op dat die Noord-Kaap moontlik op die randjie van ‘n massa Xenofobiese insident staan.
In reaksie op die vlaag voorvalle regoor die land, waar gemeenskapslede gedreig het of probeer het om winkels wat deur immigrante bestuur word, toe te maak, het die hoof van die Vlugteling- en Migrantregteprojek by Lawyers for Human Rights gesê dit is ongrondwetlik om buitelandse burgers te teiken en uit te sluit om spaza-winkels in gemeenskappe te bedryf.
Die menseregtegroep het gesê sulke optrede is “opportunistiese sondebok” vir die sterftes en hospitalisasie van kinders in sommige dele van die land nadat hulle chemikalieë ingeneem het en dat die fokus eerder moet wees op die regering se versuim om te verseker dat gesondheids- en veiligheidsregulasies by alle voedselwinkels gehandhaaf word.
Itumeleng Mphahlele, SABS-woordvoerder, het gesê die Standaardwet van 2008 het alle regulatoriese magte van die SABS verwyder, dus kan die SABS nie inspeksies doen en regulatoriese aktiwiteite doen nie, net reguleerders kan.
“In hierdie geval is die departement van gesondheid die reguleerder. SABS verskaf toetsing en sertifisering, maar dit is op ‘n vrywillige basis. Op plaaslike vlak het munisipaliteite ‘n rol om te speel in die lisensiëring van kleinhandelaars en in die afdwinging van standaarde,” het Mphahlele gesê.
Ingeligtes meen die gebrek aan voldoende Omgewingsgesondheidspraktisyns (EHP’s) wat verantwoordelik is vir die toepassing van gesondheidstandaarde, die opvoeding van besighede en die uitvoer van inspeksies hou ‘n ernstige risiko vir openbare veiligheid in.
Die konsensus is dat verskeie spaza-winkels onder een persoon se naam geregistreer is en onder onhigiëniese omstandighede funksioneer, met eienaars wat op dieselfde perseel woon en werk. Baie winkel-eienaars vra te veel vir elektrisiteit, lugtyd en kontant-terugtransaksies.
Moet die vraag nie wees, waarom word die beweerde misdaad bedrywighede en nie-nakoming van standaarde en regulasies van die buitelandse handelaars nie meer daadwerklik deur die wetstoepassers toegepas nie?
Word gebrek aan dienslewering nou deur ‘n bose xenofobiese rookskerm verdoesel?
Word alle buitelandse burgers nou onder die spreekwoordelike bus gegooi, omdat ‘n groot persentasie kriminele aktiwiteite wel buitelandse bande het?