GEMSBOK-UPINGTON: Een van Upington se voorste sakevroue, Adéle Strauss, is verlede week na ‘n kort siekbed oorlede.
Adéle was nie net ‘n sakevrou om mee reke-ning te hou nie, maar ook ‘n vrou vir haar man Nico, moeder vir Anél, De Wet en De Villiers en vriendin en kennis van baie mense van regoor die land en selfs die buiteland.
Anél sê mense van heinde en verre het vir haar ma gebid toe sy so siek was en nou, na haar afsterwe, kom ondersteuning vir hul familie, uit alle oorde.
Anél noem dat haar ouers beste maats was. Pa Nico het haar laat vlieg, sy het die planne gehad en hy moes dit laat werk.
Adéle se dood is omtrent ‘n jaar nadat die Gemsbok die 30ste bestaansjaar van die kleur-volle winkel, Tikéta, op die hoek van die Kgalagadi Pick en Pay Sentrum gevier het. Dit was een van Adéle se groot liefdes, modes en kleur.
Adéle was ‘n gebore entrepreneur wat al van kleins af koop en verkoop. Sy is oorspronklik van Stanford.
Toe sy getroud is met Nico en haar op Upington kom vestig het, het haar entrepreneurskap vlerke gekry. Sy het manshempe en -klere (André Carl en Yebo) op al die feeste in die omgewing verkoop, nie net by die Upington Skou nie, maar ook by Wildsfeeste op Kuruman en elders - dit was haar begin. Tikéta is in 1993 begin toe Adéle gesien het daar is ‘n groter behoefte aan damesklere met styl.
Intussen het sy en haar man, Nico, toegetree tot die gasvryheidsbedryf, waar hulle verskeie restaurante, asook ‘n gasteplaas, Vredelus, bedryf.
“Dit alles gaan nog voort,” het haar dogter Anél gesê. “My ma het soveel mooi vir ons gesin geskep en ons kan net daarmee voortgaan. ‘n Mooi tuiste, pragtige tuin, Dros, Tikéta en nog baie ander bedrywighede daar op die plaas. De Villiers (jongste seun) is nou in Upington waar hy vir pa Nico gaan ondersteun.
Adél was baie betrokke in die gemeenskap met raad, leiding en hulp.
Vir Adéle was dit belangrik om ‘n “doener” te wees. “Moenie te veel top oor dit wat jy wil aanpak nie, begin net en doen dit. Jy hoef nie die hoogste titel te hê om suksesvol te wees nie,” het sy nog aan die Gemsbok gesê.
Elmarie Korf, sentrumbestuurder van die Kgalagadi Pick ‘n Pay Sentrum, onthou Adéle so:
“Ja, ek het nogals die afgelope paar dae myself gereeld gevang waar my gedagtes kort-kort na Adéle toe dwaal… Dis nie ‘n staatsgeheim dat ek en Adéle (op professionele vlak) nie juis langs dieselfde vuur gesit het nie. O kyk, ons het lekker koppe gestamp, soms oor groot issues in die sentrum, soms oor onbenullighede, soos ons wel later aan mekaar sou beken en dan lekker daaroor lag.
“ Mense sê baie keer tydens ‘n persoon se afsterwe…”Daar het ‘n groot Seder geval”…maar ek dink persoonlik dat die sterre en planete ‘n gastronomiese rippel en skuif ervaar het toe Adele haar laaste asem uitgeblaas het. Wat ‘n formidabele mens en vrou, wat soos ‘n tsunami oor jou en deur jou kon waai, as sy op ‘n missie was! Sy het onverskrokke baklei vir dit wat reg was, veral waar dit haar familie en haar besighede betref het.
“Haar passie het nie net in haar woorde gelê nie, maar ook die mooiste mooi dinge waarmee sy haar altyd omring het. Die nuus is steeds so onwerklik. Adéle gaan nou-nou bel om iets te bespreek wat haar sou pla en verduidelik dat die sentrum, haar sentrum, daaronder gaan lei. Adéle, jy het nog soveel “durf” in jou oorgehad, maar ons Hemelse Vader, jou Hemelse Vader, het ander baie groter planne vir jou daar naby Hom. Ek weet sommer jy gaan gou-gou lekker woeker daar in die Hemelse tuine, veilig by Jesus en sonder enige einas en hartseer. Wederom liewe Adéle.”
Gertruida Vries, verkoopsdame by Tikéta, sê, “die sterk vrou het ons so skielik gelos. Sy was my mentor, ek het baie by haar geleer en kon baie dinge met haar deel.”
Ook Gerhard Prins, wat al die afgelope 25 jaar vir Adéle gewerk, onthou haar as ‘n baie streng vrou met ‘n klein hartjie, goeie leermeester en ma vir hul almal gewees, wonderlike, wonderlike vrou.”
Adéle Strauss se begrafnisdiens word Saterdag in Vredelus se pragtige tuin gehou. Sy word oorleef deur haar man Nico, Anél en Werner van Roo-yen, De Wet en Leona, asook De Villiers.