GEMSBOK-SPRINGBOK: Die Nama Khoi Plaaslike Munisipaliteit kondig met graagte aan dat die Nasionale Tesourie die eerste fase van ons skuldverligtingsprogram goedgekeur het, effektief vanaf 1 Julie 2023.
Hierdie beduidende prestasie kom nadat Eskom bevestig het dat die gedeelte van hulle skuld, wat by die verligting ingesluit is, op 31 Maart 2023 R209 717 044,30 beloop.
Ter erkenning van ons aansienlike nakoming – met die bereiking van 86% voldoening aan die voorwaardes soos uiteengesit deur die Nasionale Tesourie gedurende die eerste siklus – het die Tesourie Eskom opdrag gegee om een derde van ons munisipale skuld af te skryf.
Dit is gelykstaande aan ‘n verligting van R69 905 681,43, wat binne die volgende 30 dae in Eskom se finansiële stelsel verwerk sal word.
Die munisipale bestuurder mnr Jan Swartz skryf hierdie mylpaal toe aan die verantwoordelike en effektiewe leierskap wat deur speaker, dr. Gustav Bock en burgemeester, rdl Rodney Kritzinger, getoon is tydens hul gedeelde termyne as burgemeesters. “Hierdie skuldverligting is ‘n bewys van ons onwrikbare verbintenis tot finansiële verantwoordelikheid en die ywerige pogings van ons leierskapspan,” het mnr. Swartz gesê. “Hul toewyding aan deursigtige bestuur en volhoubare finansiële praktyke was instrumenteel in die bereiking van hierdie sukses.”
Die Nasionale Tesourie het die munisipaliteit geloof vir die afdwinging van beste-praktyk finansiële bestuur soos beoog in die Munisipale Finansiële Bestuurswet (MFMA) en die Munisipale Stelselswet.
Hierdie positiewe gedragsverandering was deurslaggewend in die verwesenliking van die eerste derde van die skuldverligtingsvoordeel.
Soos ons vorder, is die munisipaliteit ten volle daartoe verbind om nakoming van die voorwaardes van die skuldverligtingsgoedkeuring oor die oorblywende twee jaar van die program te handhaaf en te verbeter.
Nama Khoi sê hy erken dat sy elektrisiteit-, vullis-, water- en afvalwatertariewe nie koste-reflektief was nie.
‘n Deeglike hersiening sal gedoen word om hierdie tariewe toepaslik in lyn te bring, om die volhoubaarheid van hulle dienste te verseker.
’n Kritiese ondersoek van hulle personeelstaat sal onderneem word om te verseker dit strook met hul finansiële vermoëns en grondwetlike mandaat om basiese dienste doeltreffend te lewer.
“Ons sal ons kredietbeheerbeleide en -praktyke versterk, insluitend behoorlike toewysing van verbruikersbetalings en strewe om geteikende invorderingskoerse oor alle dienste te bereik,” sê Jason Milford, kommunikasie hoof van die munisipaliteit.
“Daar sal onmiddellik opgetree word om die oorstatering van eiendomsmarkwaardes in ons finansiële stelsel aan te spreek en om te verseker dat alle eiendomme akkuraat ingesluit is, wat wettigheid en korrektheid in ons fakturerings-prosesse waarborg. Daarbenewens sal ons ons verslagdoeningsmeganismes verbeter, insluitend tydige indiening van vereiste dokumentasie by die GoMuni-portaal, om deursigtigheid en aanspreeklikheid te handhaaf.”