GEMSBOK-KATHU: ‘n Angswekkende teregstelling-styl moord het verlede week skokgolwe deur ‘n myndorp in die Noord-Kaap gestuur en inwoners laat wankel.
Op Dinsdag, 31 Desember 2024, is ‘n 37-jarige burger van Bangladesj, na bewering, noodlottig geskiet - terwyl hy ‘n vragmotor op die N14-pad in Kathu bestuur het.
Volgens polisiewoordvoerder, kolonel Cherelle Ehlers, het die polisie omstreeks 13:27 op ‘n berig van ‘n geparkeerde vragmotor gereageer.
Na ondersoek is die slagoffer in die bestuurdersitplek gevind met ‘n koeëlwond aan die kop. Ondanks pogings om hom te red, het die man in die hospitaal aan sy beserings beswyk.
Die Kathu SAPD ondersoek die moord, en die polisie doen ‘n beroep op enigiemand met inligting, om na vore te kom.
Konstabel Tshireletso Leburu van die Kathu-speurders kan gekontak word by 079 481 9501 of 08600 10111. Alle inligting sal vertroulik hanteer word.
Hierdie is die derde koelbloedige moord in ‘n kwessie van maande op ‘n buitelandse burger in die provinsie.
‘n Spaza-werknemer, Mohammed Ferazi, wat op 8 Oktober 2024 alleen in die winkel was, is noodlottig deur die verdagtes beseer voordat hulle na bewering die snoepie beroof en gevlug het.
Die polisie in Paballelo het ‘n moordsaak vir ondersoek aanhangig gemaak, na aanleiding van ‘n skietvoorval waartydens ‘n 34-jarige winkel-eienaar die aand van Dinsdag, 22 Oktober 2024 noodlottig gewond is.
‘n Toename in insidente, dui daarop dat die Noord-Kaap moontlik op die randjie van ‘n massa Xenofobiese insident staan.